Wonderboom-lughawe glo tot in die grond bestuur

Foto: Facebook

Terwyl standaarde by die Wonderboom-lughawe in die noorde van Pretoria aanhou versleg, het die Tshwane-metro ʼn maatskappy wat lugvaartveiligheidsopleiding doen, heraangestel om die stad se eens trotse bate te bestuur.

Dit is dieselfde maatskappy onder wie se bestuur die lughawe sedert November 2017 na bewering stelselmatig in die grond in bestuur is. Terselfdertyd het hulle maandelikse tarief met 300% verhoog sonder dat enige verandering aan die oorspronklike diensooreenkoms aangebring is.

Die tydskrif Noseweek berig in sy Oktoberuitgawe dat die munisipaliteit se lughawediensafdeling nog altyd in staat was om Wonderboom te bestuur, maar die amptenary is feitlik oornag vervang deur ʼn privaat maatskappy PAS, Professional Aviation Services (Edms.) Bpk.

Die maatskappy is bekend in lugvaartkringe en spesialiseer in, onder meer, lugvragveiligheid, opleiding en vliegtuigverkope, maar het nog nooit ‘n lughawe bestuur nie. En dit wys. Wat veronderstel was om ‘n sogenaamde omkeerstrategie vir Wonderboom te wees, het skynbaar klaaglik misluk.

Die eens besige aanloopbaan is nou meestal verlate, die huurders ontnugter en die lughawe se munisipale personeelstruktuur aan flarde. Belangrike poste is gedupliseer en selfs oortollig gemaak, wat tot ‘n lae moraal by die personeel gelei het – ‘n senior amptenaar het selfs sy eie lewe geneem.

Huurders sê ook hulle wag al meer as twee jaar om hul huurooreenkomste onderteken te kry, daar is selde vliegtuigbrandstof beskikbaar en vliegtuie moet by Brits in Noordwes gaan volmaak.

Die amptenary kla dat daar geen stabiliteit is nie en dat die reëls en regulasies voortdurend verander soos dit die PAS-maatskappy pas.

In Mei 2018 het SA Airlink sy diens op die roete tussen Pretoria en Kaapstad opgeskort, glo omdat vliegtuie nie altyd vol was nie. Maar daar kon ook ‘n botsing van belange gewees het, omdat PAS Airlink se sekuriteitskontrakteur was terwyl die maatskappy terselfdertyd ook die lughawe bestuur het.

Die lughawe se afwaartse spiraal het in November 2017 begin toe die magtige en oënskynlik onaantasbare hoof van die metro se sogenaamde Rapid Intervention Team, Nava Pillay, die lughawe se lynfunksie van die departement van paaie en vervoer eers na die kantoor van die uitvoerende burgemeester en toe, binne enkele maande, na die kantoor van die stadsbestuurder geskuif het.

Nava Pillay

Dit is nie die eerste keer dat Pillay se naam met wanbestuur in die metro verbind word nie. Maroela Media het onlangs berig oor grondtransaksies wat die oë laat rek het en waar Pillay se naam ook ter sprake was.

Die brand-en-reddingseenheid van die munisipaliteit is na noodhulpdienste oorgeplaas sonder om die korrekte prosedures te volg. Ná die verskuiwings was Pillay instrumenteel in PAS se aanstelling wat as ʼn noodsituasie beskryf is.

Maar ten spyte van die sogenaamde noodsituasie wat die aanstelling regverdig het, is die diensooreenkoms tussen Tshwane en PAS eers in Junie 2018 afgehandel, vyf maande nadat PAS op die lughawe begin werk het.

Toe hul twaalf maande-kontrak verstryk, het die maatskappy eenvoudig voortgegaan sonder dat ‘n amptelike ooreenkoms opgestel is. Tshwane se departement van finansies weier steeds om PAS vir daardie tydperk te betaal uit vrees dat die ouditeur-generaal dit as verkwisting sal sien.

PAS is later vir ʼn verdere agt maande aangestel en weer op 1 Augustus vanjaar op ʼn maand-tot-maand-grondslag.

Elkeen van hierdie aanstellings is gemaak deur af te wyk van die bestaande regulasies wat deur die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (WMFB) voorgeskryf word. ‘n Munisipaliteit mag slegs in uitsonderlike gevalle afwyk soos met noodgevalle of waar dit onprakties of onmoontlik is om amptelike prosesse na te kom.

Kort ná hul aankoms op die lughawe het PAS Waheed Mohamed as die nuwe lughawebestuurder en David Alexander as die nuwe uitvoerende bestuurder aangestel. Alexander se seun, Brett, is aangestel om na sekuriteit en veiligheid om te sien en later het Alexander se vrou, Lynn, beheer oor die skoonmaakdienste geneem. Albei is intussen weg by die lughawe.

Die maatskappy het ook hul eie permit en opleidingsbeamptes asook administratiewe klerke ingebring wat bloot die kantore van sommige munisipale werknemers by Wonderboom oorgeneem het.

’n Bekommerde senior munisipale amptenaar sê wat gebeur het, is totaal ongehoord.

“In minder as twee jaar is PAS toegelaat om die daaglikse funksionering van die lughawe heeltemal oor te neem deur die plek gelyktydig te beman en te bestuur.”

Verskeie PAS-posbeskrywings is dieselfde as dié wat deur munisipale amptenare beklee word en hulle is eenvoudig uitgestoot, maar ontvang steeds salarisse.

“Hoe is dit moontlik,” vra die Onafhanklike Munisipale en Verwante Vakbond (Imatu) in ‘n brief wat aan die burgemeester van Tshwane, Stevens Mokgalapa, gestuur is. Die ander groot vakbond, Samwu, het ook reeds so vroeg as Mei vanjaar die senior bestuur van Tshwane teen die aanstelling van PAS gewaarsku.

Die vakbonde beweer PAS volg nie die munisipale werwingsprosesse nie en verifieer ook nie kwalifikasies en ervaring nie. Daar word ook beweer dat Waheed Mohamed aansoek gedoen het, maar nie eers die kortlys gehaal het toe die munisipaliteit verlede jaar onderhoude gevoer het om die pos van lughawebestuurder te probeer vul nie.

SA Airlink. Foto: Facebook

“Hy het eenvoudig nie die vereiste kwalifikasies vir die pos soos wat in die advertensie vermeld is nie, maar hy is tóg toegelaat om sedert November 2017 die werk teen enorme betaling te doen. Dit is nie in ooreenstemming met die standaarde en aanvaarde praktyke van die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie (IBLO) nie.”

Die vakbonde het verder daarop gewys dat PAS nie die gedragskode of diensvoorwaardes van die munisipaliteit nakom nie en onkundig is oor plaaslike regering en die voorskrifte van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (WMFB). Nogtans het hulle toegang tot die munisipaliteit se interne stelsels en gebruik hulle Tshwane se voertuie, briefhoofde en e-posadresse.

Die munisipaliteit is gewaarsku dat hulle, as die lughawelisensiehouer, direk aanspreeklik gehou sal word as PAS se personeel verkeerde besluite neem.

“Ons plaas dit op rekord dat die huidige situasie by die lughawe lewensgevaarlik kan wees vir die Tshwane-amptenare, die lughawehuurders, die vliegtuigoperateurs en hul passasiers.”

Die metro se uitvoerende departementshoofde, waaronder die hoof van regsdienste, het die stad se politieke leiers reeds by talle geleenthede gewaarsku dat hulle onregmatig optree deur PAS herhaaldelik aan te stel asof daar nie ander opsies is nie.

Maar dit lyk asof die politici tot op die laaste oomblik nie aandag aan die klagtes gegee het nie; PAS se tweede kontrak het in Julie verval en die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het glo gedreig om die lughawe se bedryfslisensie te kanselleer as die pos van lughawebestuurder nie gevul is nie.

PAS is dus heraangestel en hulle tarief van R252 000 is tot ‘n allemintige R828 000 per maand verhoog.

Elmarie Linde, die DA-voorsitter van die staande komitee vir paaie en vervoer in die Tshwane-raad, het later verduidelik dat die nuwe “kontrak” voorsiening maak vir funksies wat nie deur die vorige een gedek is nie.

Sheila-Lyn Senkubuge

Die Burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, Sheila-Lynn Senkubuge, het kortliks laat weet dat PAS ook bykomend vir veiligheid, kwaliteitsbestuur, operasionele aktiwiteite en sekere administratiewe take by die lughawe verantwoordelik is.

Daar is egter steeds geen diensooreenkoms opgestel nie en die motivering vir die heraanstelling wat die waarnemende stadsbestuurder, Lorette Tredoux, aan die begin van Augustus goedgekeur het, verwys ook nie na die ekstra verantwoordelikhede nie.

Die munisipaliteit se hoof van voorraadaankope het in sy kommentaar beswaar teen die verhoogde tariewe gemaak en gesê dat die aanvaarbare verhoging 15% is, wat op ‘n bedrag van R303 000 per maand neerkom.

Die hoof van finansies het gevra dat die bedrag van R828 000 breedvoerig uiteengesit moet word.

Uit die dokumente is dit duidelik dat daar nie vir die verhoogde uitgawe begroot is nie en dat die betaling uit die kostesentrum vir lugverkeernavigasiedienste (ATNS) kom.

Beide Waheed Mohamed en Rob Garbett, PAS se besturende direkteur, wou nie vrae beantwoord nie omdat Tshwane glo nie toelaat dat kontrakteurs munisipale sake met die media bespreek nie. Dis eintlik ironies, want Waheed Mohamed het tog talle onderhoude oor die Wonderboom-lughawe aan ʼn plaaslike koerant toegestaan.

Senkubuge, die raadslid vir paaie en vervoer, het ook nie op dieselfde vrae reageer nie.

PAS het ʼn vlak 4 swart bemagtiging-gradering wat beteken die maatskappy is minder as 51% in swart besit en dat hul inkomste nie meer as R10 miljoen per jaar is nie.

Wonderboom-lughawe. Foto: Facebook

Volgens hul LinkedIn-profiel is Professional Aviation Services Suid-Afrika se voorste lugvrag-sekuriteitskonsultant en spesialis. Dit is moeilik om te glo dat die maatskappy se inkomste nie R10 miljoen per jaar oorskry nie.

Garbett sê PAS het kennis gegee en dat hy persoonlik hul bedankingsbrief aan Tshwane se burgemeester oorhandig het. Hy sê hy wil graag op die aantygings in die media antwoord en wag dat die Tshwane-metro hom daarvoor toestemming gee.

En terwyl Garbett wag, het Senkubuge geen tyd verspeel om aan te kondig dat Wonderboom gekommersialiseer gaan word nie. Sy het onlangs aan Rekord Noord gesê dat dit die langtermynplan vir die lughawe is. Die munisipaliteit gaan glo ʼn adviseur aanstel wat die transaksie gaan bestuur.

Dis beslis nie ʼn nuwe idee nie, sê Lex Middelberg, voormalige DA-raadslid en tans voorsitter van Tshwane Geldsake Koukus.

Hy sê dit was reeds in 2004 genoem in die goedgekeurde Lughawe-ontwikkelingsplan. Daarna is ‘n maatskappy aangestel, maar na hulle in 2006 hul verslag ingedien het, was die projek nie langer op die agenda nie.

Later is ʼn ander maatskappy aangestel om ʼn studie te doen volgens die voorskrifte van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels

In 2013 is die Universiteit van Pretoria aangestel as transaksie-adviseur om die raadsbesluit van drie jaar vroeër te implementeer.

Daarvoor is R10 miljoen begroot, maar die universiteit is gestop na hulle reeds R8 miljoen se werk gedoen het en betaal is. Hulle is toe vervang deur City Insight om glo die proses voort te sit, sê Middelberg.

Sowel Tshwane se woordvoerder as die burgemeesterskomiteelid en die voorsitter van die oorsigkomitee het nie op skriftelike navrae oor die vorige studies en die toekoms van die lughawe gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

56 Kommentare

koos ·

En die DA is in Aug 2017 in beheer van Tshwane. Wat het hulle dan nou gedoen?
Kiesers is belowe dit sal beter gaan met Pretoria as die DA in beheer kom?

Theoman ·

Kyk jy kan nou maar se wat jy wil of dit nou die DA of die ANC is saam maak hulle net so droog. Dit wat die DA by Wonderboom lughawe wat eens n Pretoria trots gedoen het Is absoluut weereens pateties, soos so baaie ander gemors wat hulle aanvang.

Hartseer ·

Die DA mense in beheer is net so onkundig. Mense met ondervinding mag mos nie aangestel word nie. So wat verwag julle?

Meraai ·

N mens het nie n graad nodig om n plek te bestuur nie, net common sense

Lollie ·

Nuus? Indien daar enige instansie is wat floreer, behalwe party se bankrekeninge, gee dit dan vir ons deur. Die hele land word in die grond in bestuur!

O Wee ·

Netso Lollie! Alles waaraan hulle vat verander in…..gemors!

John ·

Nie alle Gumpies se vanne is dieselfde nie. Waar geld is, is Oosterse kundiges altyd en ewig in Afrika baas van die beursies.

Johan ·

Koos is reg. Die DA se besluite is met tye pateties.
Voordat Suid-Afrika in die geheel nie terugbeweeg na die “best man/woman” beginsel nie, gaan ons oor die afgrond.

K P ·

Dit is moeilik om te besluit wie is die grootste patete as dit kom by regeer. Die da of anc. Ek weet die da probeer hulle bes om die anc verby te steek as die grootste vermorses van belasting betaler geld. En hulle is nie skaam om jou belasting uitermatig te verhoog.

Sê maar net ·

Johan die beste persoon vir die werk beginsel sal nooit weer gebeur nie want dan moet bykans elke persoon in die munisipaliteit se diens gefire word.

Boeing ·

Dit is duidelik dat daar oral chaos geskep word om uit die chaos goed korrupte geld te maak. Die DA (ANC lite) wil ook skep met sy eie kaders (liberale wittes en swartes). Dit gaan nie oor politieke andersheid nie, maar slegs oor politieke mag. Die Pillay kêrel is ook daar om geld te maak. Dit is jammer dat alles so die grond in bestuur word, sodat sekeres daaruit kan voordeel trek. Eintlik is dit hoogverraad en sabotasie.

sweis ·

Ek stem hulle vernote die DA of anc lite is presies dieselfde.

Susan ·

DA is verseker nie die antwoord nie. Hulle is ANC LITE en net so treurig met hulle eie agenda wat nie jou toekoms bou nie .. VF+ groete

O Wee ·

…..en ons wag steeds dat die VF+ moet begin ‘terugslaan’.

schaun ·

Ek sal skaam wees as ek vir die DA stem so sal ek nog skamer voel om n patetiese party soos die DA in dieselfde sin te gebruik as die VF+

sweis ·

O wee,wat het die VF+ met die lughawe te doen dit blyk jou party te wees vir wie jy die vraag moet vra of stem jy maar DA oor oningeligtheid.

Dolf ·

Die hoofstad was lank voor die DA se beheer al ‘n hool. Dit sal nog verder sink. Dit gaan steeds my verstand te bowe dat dit nou Solidariteit se hoof ankerdorp is, met miljarde se beleggings wat kom. Hoe kan mense aangemoedig word om daar nes te skop. Die meeste sal weer moet trek na meer aanvaarbare gebiede.

SjN ·

Besef hulle nie dat hul nie die job kan doen nie. Rommelstatus.

Piesang ·

Dis nie die politieke party wat die degenerasie veroorsaak nie, maar die wesens wat die bedryf hanteer. Al is die DA in beheer, moet hulle steeds BEE toepas. En dit is net DAAR waar die gemors begin.

What a joke! ·

Hehe ja dit is gewis so..Alles wat hul aan raak in die nuwe Suid Afrika verander in bollie….bwahahaaaa…eisch…

Hector Jooste ·

In die grond in soos met feitlik alles in SA sedert die oorgang na sogenaamde demokrasie. Die enigste plek waar dinge nie in die grond in bestuur word nie is Orania. Ek wonder hoekom.

Kiskar ·

Is Orania nie die plek waar daai onderwyser ‘n verkragtingsaak teen hom in die gesig staar nie? Sonde is kleurblind.

Oom Okkert Stywe Arms ·

Kiskar ek sien niemand hier wat beweer dat sonde ñ kleur het nie. Die kommentare hier gaan oor heeltemal iets anders.

HPV ·

Dit is nog niks, kom kyk hoe lyk bankrot Mangaung Metro. En wie moet ons bedank? Natuurlik die ANC en DA. Viva ANC/DA!

Anni Thirtle ·

Dis nou mos BEE!! Alles wat hul aanraak verander in n mislukking en n gemors! More word die wittes weer gevra om in te gryp want ons kan! As hul ons maar net wou toelaat om hul te leer was SA nou voor en nie agter nie en almal was geleerd en gelukkig.

Mieke ·

Anni, rerig?
More moet die wittes regmaak?????
Sjoe, dream on!

Arak ·

Net om verder sout in die belasting betalers se wonde te vryf hou hierdie DA beheerde stadsraad aan om erfbelastings drasties te verhoog ten spyte van die feit dat die eiendom se waarde val; dit nadat jy vir al die dienste afsonderlik ook moet betaal. Tyd dat hierdie DA skelms ook voor stok geneem word.

humor ·

Vreemd die plek se naam is nog nie verander nie. Om te wonder is nie goed genoeg nie, daar moet ingegryp word, maar wie????????????

Johanna Botha ·

Baie min wat nie al in die grond bestuur is nie …in pta raak almal opgewonde hulle begin bloome weer plant ….nou staan dit droog en onkruit oral ….watse bestuur is dit ! Probeer maar volg nie deur nie !

Tilo ·

Kyk, die DA kan nie eers Jackson van-Zyl park in Tileba toespan nie. Hoe wil hul n lughawe bestuur….

Vierkleur ·

Lyk my Musi se party moesie aan bewind gekom het nie, So daar het julle dit nou. Veral die in Pta Oos wat so in die DA se alie opgekruip is.

KOUS ·

Gaan kyk na die 30 munisipale swembaddens waarvan baie toe staan en ander in haglike omstandighede open, en geen watermonsters geneem word om te verseker dit nie gesondheidsrisiko in hou vir swemmers nie,verskeie verse gedien maar niks word gedoen nie.

Louise Rieper ·

Ek sal met trots kommentaar lewer oor die senior amptenaar wat sy lewe geneem het. As gevolg van die skimmel wat ingekruip het, moes ons n jaar gelede langs n graf staan. ‘n Held het geval, my held!
Hy het as assistent sy bene af gehardloop vir die oornemende maatskappy net sodat hy n klap in die gesig moes kry. God slaap nie…. En geregtigheid sal geskied…

Wonderman ·

Die plek kan nou maar ‘n nuwe naam kry: Die Dooieboom Grondhawe.

Lalie ·

Niks nuuts nie. Sal ons se geluk hulle kry reg wat in ons nie reggekry het nie.

KAKtus ·

Kry vir julle, almal wat DA gestem het…
Niks anders as Botha se NP wat die land weggegee het….ek skaam my.

Christa ·

Wat is nie tot in die grond bestuur onder hierdie nuwe regering nie?

Doris ·

Kom BLO sluit hierdie Wonderboom Lughawe julle kan dit moes doen. As daar nie aan die nodige Veiligheids Regulasies voldoen nie. Lyk my daar word net gekyk wie kan die grootste salaris n maand kry. Net nou laat hulle Vlieeniers wat nie die nodige opleiding en lisensies en het nie vlieg. Keer dit en sluit hom.

Barend ·

Dit is tyd dat die Afrikaner wakkerskrik en soos een man vir die VF+ stem – hoe groter sê ons op alle vlakke van regering kan kry, hoe beter sal dit uiteindelik gaan.

Pieter ·

Ek stem saam met jou barend ons blankes het nie n ander plan nie ons gaan moet saam staan en die VF+ n kaans gee so kan dit nie aan gaan nie en om te bly kla en praat gaan vir niks help nie ons blankes moet nou iets begin doen

Kobus ·

Nie alle blankes steun die VF+ se beleid nie. Hoekom moet hulle dan vir Groenewald stem? Demokrasie werk mos nie so nie.

Sven ·

Afrikaners se lae getalle beteken dat hulle seggenskap vir altyd minimaal sal bly. Selfs die DA se 85 setels tel min punte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.