Sjinese porselein van miljoene rande word uit dié 17de eeuse herehuis en Izikomuseum vermis. Inspekteurs vermoed dat dit ʼn sindikaat was en dat hulle internasionale bande het wat waardevolle Sjinese porselein najaag.
Rooksana Omar, hoof uitvoerende beampte van Iziko Museums sê personeel het Maandagoggend ontdek dat verskeie waardevolle items uit die versameling vermis word. “Die saak is by die SAPS aangegee en ʼn volskaalse ondersoek is van stapel gestuur,” het sy gesê. Dit is nog nie duidelik hoe die rowers ingebreek het nie.
Die Manor House sal gesluit bly tot verdere kennisgewing. Ander fasiliteite by Groot Constantia-wynplaas bly oop vir toeriste en besoekers.
Die Groot Constantia-wynplaas dateer uit 1685 toe die grond aan die eerste goewerneur van die Kaapse Kolonie, Simon van der Stel, gegee is. Oor die laaste vier eeue is meubels, skilderye, materiaal, keramiekware en koperware van onskatbare waarde hier versamel.
Die Manor House-museum met sy restaurant vorm deel van die Jonkerhuis-kompleks. Die plaas word steeds aktief bedryf en is een van Kaapstad se gesogte toeristeaantreklikhede.