Inbraak lei tot noodlottige fratsongeluk

Argieffoto: Netcare 911

Argieffoto: Netcare 911

ʼn Inbraak by ʼn gewilde kettingwinkel in KwaZulu-Natal het tot ʼn fratsongeluk gelei waarin ʼn jong man dood en nog een beseer is.

Kapt. Pumzile Makaula, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê twee veiligheidsbeamptes by die Jumbo Cash & Carry in Congela in Durban het Woensdagoggend teen dagbreek opgemerk dat daar ʼn gat in die dak van die winkel is.

“Die beamptes het na bewering op die winkel se dak geklim om ondersoek te gaan instel en het op een of ander manier van die dak afgeval,” het Makaula gesê.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die mans het sowat 12 m ver geval.

“Paramedici was omstreeks 06:55 op die toneel. Die twee mans het op ʼn betonblad te lande gekom en is daar aangetref,” het Botha gesê. Hy het gesê een man, in sy 20’s, was reeds dood. Die ander man het kritieke beserings opgedoen.

Hy is op die toneel gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Makaula het gesê daar was nie ʼn verdagte op die toneel gevind of te sien nie. Die polisie ondersoek die voorval en doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ELLA ·

Buitestander
Daar was reeds ingebreek dit is die beamptes wat op die dak geklim het om die gat in die dak te ondersoek en hulle 2 die beamptes het af geval.

Steel ·

Nee Buitestander, ek reken hulle het klaar gesteel en was reeds weg alhoewel die berig niks daarvan meld.

Santie ·

Shame, mense wat bereid wat bereid was om die ekstra myl te loop vir hul werkgewers.

snoefie ·

alle simpatie en sterkte aan die families. snel herstel aan die beseerde.

Carel ·

12 meter is vrek ver. Ek het van ‘n 10 meter duikplank gespring en wou omdraai voor ek die water getref het. Kan net dink wat doen ‘n sementblad na ‘n val van 12 meter.

Piet Pompies ·

Onlangs het kruideniers winkel se alarm in die oggend ure afgegaan, die eienaar het gaan ondersoek instel en kon niks vreemds vind, sowat ‘n uur later weer alarm, ondersoek toon ook niks.
Die volgende dag word die beeldmateriaal van die winkel nagegaan en word met skok ontdek dat met die tweede besoek aan die winkel deur die eienaar was die inbrekers alreeds in die winkel en kan gesien word hoe 3 inbrekers in die bakery gedeelte wegkruip.
Toegang is ook deur die dak gekry en sekerheidsmaatskappy het die inbrekers in die plafon gekry gedurende die dag waar hulle letterlik huis opgesit het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.