Inflasie is hoër

Argieffoto

Verbruikersprysinflasie (VPI) het in Oktober toegeneem, het Statistieke Suid-Afrika Woensdag gesê.

Die verhoging, van 5.5% in September na 5.6% in Oktober, is weens hoë kospryse en brandstofpryse. Die jongste inligting het markontleders verras wat verwag het dat inflasie effens sou afneem.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se monetêre beleidskomitee vergader tans in Pretoria om die repokoers te bespreek. Die SARB se besluit oor die repokoers, waarteen handelsbanke geld van die sentrale bank leen, sal Donderdag bekendgemaak word.

Annabel Bishop, ekonoom van Investec, het gesê een van die hoofbydraers tot die VPI was hoër graanpryse wat daartoe gelei het dat produkte soos brood en pap duurder geword het. Die koste van vleis en suiwel het ook gestyg weens voerpryse wat duurder geraak het, het sy gesê. “Die SARB behoort nie nou binnekort rentekoerse te verhoog nie en hy het nou geen ander keuse as om die repokoers onveranderd te laat nie, ten spyte van die afname in groei weens stakings,” het Bishop gesê.

Volgens Bishop was kosprysinflasie 6.7% jaar op jaar, weens die graanpryse op vervaardigersvlak. Die droogte in Amerika vroeër die jaar het ook tot verhoogde graanpryse bygedra. “Inflasie sal moontlik hierdie jaar nog styg weens die hoër kosprysinflasie. VPI-inflasie sal na verwagting die teiken vir ʼn aansienlike tydperk in 2013 oorskry,” het Bishop bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.