Infowet: Kilometer lange petisie voor Uniegebou uitgerol

Die burgerregtegroep AfriForum het Donderdag ses petisierolle op die staatspresident se grasperk voor die Uniegebou uitgerol.

AfriForum sê die petisierolle het ʼn totale lengte van meer as ʼn kilometer en weeg gesamentlik meer as 50 kg. Die petisierolle bevat die name van meer as 10 000 landsburgers wat beswaar teen die voorgestelde Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting op die webblad www.thebillstopshere.co.za aangeteken het. AfriForum het die petisie in Desember van stapel gestuur nadat die wetsontwerp deur die parlement goedgekeur is. Meer as 10 000 mense het binne die bestek van 48 uur hulle protes aangeteken. “Tot dusver is die publiek se besware teen die wetsontwerp botweg geïgnoreer. Met hierdie aksie het ons op ʼn visuele manier vir die president uitgebeeld hoe sterk die publiek teen die wetsontwerp gekant is,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Die wetsontwerp moet nog deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur word, waarna die staatspresident dit moet onderteken. AfriForum sê die petisie is daarop gerig om die staatspresident te versoek om die dokument nie te onderteken nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.