Inge Lotz-hofsaak: rekenaars en data gesteel

Inge Lotz

Skootrekenaars wat aan die twee advokate behoort wat aan die Inge Lotz-moordsaak werk, is glo oor die naweek uit hul kantoor in Kaapstad gesteel.

Die inbraak het glo Saterdagaand by die kantoor van advokaat Barry Pienaar plaasgevind en Sondagaand by advokaat Dup de Bruyn. Hul kantore is op verskillende vloere, het Beeld Woensdag berig. Pienaar se rekenaar sowel as geheuestokkies en rugsteun-DVDs wat inligting bevat, is uit ʼn laai in sy sekretaresse se lessenaar gesteel. De Bruyn het Dinsdag gesê dat iemand die slot op sy kantoordeur gebreek het en sy rekenaar en ʼn sak wat sy toga bevat, gesteel het. “In ʼn kantoorblok met 35 advokate, het hulle my en advokaat Pienaar se kantore geteiken… dit is baie vreemd,” het De Bruyn gesê en bygevoeg dat die twee kantore ʼn hele ent van mekaar af weg is. Alles waarop hulle gewerk het, is verlore, en waar advokaat De Bruyn rugsteunkopieë vir sy lêers gehad het, het advokaat al sy lêers en navorsing verloor. Fanie Zaayman, distriksbestuurder vir die sekuriteitsmaatskappy wat vir die beveiliging van die gebou verantwoordelik is, het gesê dit blyk asof die diefstal eerder daarop gemik was om spesifieke data te bekom as om rekenaars te steel.

Matie-student Lotz is sewe jaar gelede in haar woonstel in Stellenbosch vermoor. Privaatspeurder Piet Byleveld is onlangs deur haar ouers genader en versoek dat hy die moord sal ondersoek. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.