Inligtingswet goedgekeur

Argieffoto

Die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting is Donderdagmiddag deur die parlement goedgekeur.

Die voorgestelde wetsontwerp is met 189 stemme te gunste, en 74 stemme daarteen en een onthouding goedgekeur, berig EWN. Die sogenaamde geheimhoudingswet sal nou deur pres. Jacob Zuma bekragtig word.

Die wetsontwerp is die afgelope drie jaar telkens verander en word deur Cecil Burgess van die ANC as ‘n “hergebore” wet beskryf. Burgess was aan die hoof van die ad hoc-komitee wat probleme met die wetsontwerp ondersoek het. Teenstanders voer aan dat die wet, selfs in sy huidige formaat, ongrondwetlik is.

Talle groepe het onderneem om die wetsontwerp voor die hof te daag. ‘n Beroep word op Zuma gedoen om die wetsontwerp na die grondwetlike hof te verwys.

Siyabonga Cwele, minister van staatsekuriteit, het Donderdag aan lede van die parlement (LPs) gesê die wetsontwerp is noemenswaardig verander. “Ons is vol vertroue dat die wetsontwerp die besware van ons mense aanspreek,” het Cwele gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.