Inligtingswet: Publiek kan nou e-posse aan Zuma stuur

Die burgerregte groep AfriForum het Dinsdag ’n webblad bekendgestel waarop lede van die publiek boodskappe aan die president kan stuur rakende hul misnoeë met die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting.

ʼn Adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, Ernst Roets, sê die boodskappe wat vanaf http://www.thebillstopshere.co.za/ gestuur word sal direk na president Jacob Zuma se persoonlike e-posadres gaan. Die webblad vorm deel van ’n vyfpuntplan waarmee AfriForum lede van die publiek wil aanmoedig om by die stryd vir vryheid van inligting in Suid-Afrika betrokke te raak. “Aangesien dit ’n wetgewende proses is, was die stryd teen hierdie wet tot nou toe grootliks in die hande van opposisiepartye. Die status quo is egter besig om te verander en die groot geveg begin nou eers,” het Roets gesê. “Al beteken dit dat ons by die Verenigde Nasies teen hierdie wet moet baklei, sal ons nie stop tot ons geslaag het nie.” Die e-posse word in die vorm van ’n petisie aan pres. Jacob Zuma se persoonlike e-posadres, sowel as dié van sy assistent gestuur. Met hierdie funksie kan lede van die publiek die volgende e-pos aan die staatspresident stuur:

“I, the undersigned South African citizen, would hereby like to state my concerns about the so-called “Protection of State Information Bill”. I am of the opinion that the Bill in its current form will be detrimental to the principle of accountability and effective government in South Africa; that it will have a negative impact on the fight against corruption; and that it will severely curtail the role of the media as watchdog. I hereby request that you prevent this Bill from becoming a law by refraining from signing it.”

“Dit lyk of die meeste lede van die regerende party hulle eenvoudig aan die publiek se pleidooi in hierdie verband wil afsmeer. Sodra die staatspresident sy handtekening op hierdie dokument plaas, sal dit die mees vernietigende stuk wetgewing van die afgelope 20 jaar wees. As dit nodig is om die president se rekenaar met klagtes van die publiek te oorstroom, doen ons dit met graagte,” het Roets gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.