Instansie tevrede met Afrikaanse wiskundeleerlinge se prestasie

skoolTe midde van kritiek oor die aantal matrieks wat in 2013 se eindeksamen in belangrike vakke soos wiskunde en wetenskap goed presteer het, is daar wel ʼn ligpunt wanneer gekyk word na die resultate van matrieks wat in Afrikaanse wiskunde presteer het. Die Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers (V.A.W.), ʼn projek van Solidariteit Helpende Hand, spits hom daarop toe om wiskundeonderrig in Afrikaans te ondersteun en te bevorder.

“Ons voorlopige navorsing toon dat die Afrikaanse wiskundeleerlinge, net soos met die internasionale TIMSS-assessering vroeër verlede jaar, tydens die matriekeindeksamen ver bo die nasionale gemiddelde presteer het,” sê dr. Gerrit Stolts, dosent aan die Universiteit van Pretoria.

In ’n ontleding deur dr. Stolts van voormalige model C-skole met Afrikaans as onderrigmedium se prestasie tydens die 2003 TIMSS-toetse, het Afrikaanse deelnemers wêreldwyd tiende beste presteer. Dít te midde van die feit dat Suid-Afrika as geheel 46ste geëindig het.

“Hoewel die statistiek van die departement van onderwys toon dat net 40,5% van matrieks in 2013 ʼn persentasie van meer as 40% vir wiskunde kon behaal, is Afrikaanse wiskundeonderrig baie sterk,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “Verskeie studies bevestig dat kinders se punte dramaties verbeter indien die onderwyser se kennis oor die vak verbeter.”

Die V.A.W. bied voortgesette ondersteuning deur middel van kongresse, kort kursusse, gereelde nuusbriewe, wiskundige hulpmiddels en ʼn eksklusiewe webwerf wat regdeur die jaar aan Afrikaanse wiskundeonderwysers beskikbaar is om te verseker dat skoliere beter onderrig kan ontvang.

Die V.A.W. sal in 2014 ʼn positiewe impak op meer as 180 000 Afrikaanse leerlinge se wiskunde-onderrig hê deurdat meer as 1 200 Afrikaanse wiskundeonderwysers aan V.A.W.-aktiwiteite gaan deelneem. Sodoende word verseker dat Afrikaanse kinders steeds toegang het tot wiskunde-onderrig van wêreldgehalte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Ja, ons kinders is slim, maar ek dink dis ook daai STRENG AFRIKAANSE DISSIPLINE wat in ons huise geld.

Baie geluk aan al die matrieks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.