Interdik teen Gautengse e-tolstelsel

‘n Interdik is Saterdag in die hooggeregshof in Pretoria toegestaan teen die implementering van die e-tolstelsel op Gautengse hoofweë.

Regter Bill Prinsloo het Saterdagoggend die interdik toegestaan wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) verbied om die e-tolstelsel te implementeer. Prinsloo het toegegee dat Sanral moontlik finansieel kan swaarkry as gevolg van die besluit, maar dat derduisende mense ook sal swaarkry as die stelsel geïmplementeer word. Prinsloo sê die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (BTST) het bewys dat motoriste gaan skade ly indien die tolstelsel voortgaan. Volgens Prinsloo se uitspraak sal die e-tolstelsel nie kan voortgaan voor ʼn hersieningsverhoor gehou is nie. Die BTST het vroeër die week ʼn dringende aansoek voor die hooggeregshof in Pretoria gebring om die implementering van die Gautengse e-tolstelsel uit te stel. Die e-tolstelsel moes Maandag in werking te tree. Daar is egter Donderdagmiddag ook aangekondig dat die implementering tot 30 Mei uitgestel is na ʼn vergadering tussen die leierskap van die ANC en die vakverbond Cosatu.

Prinsloo het begin deur ʼn opsomming te lees van wat in die hof voorgehou is deur die onderskeie partye. BTST se regsverteenwoordiger het vroeër aangevoer dat die tolstelsel onredelik is aangesien daar buitensporige kostes daaraan verbonde is. Regsverteenwoordigers van Sanral en die tesourie het aangevoer dat Sanral meer as R200 miljoen sal verloor vir elke maand wat tolgeld nie gehef word nie. Daar is verder aangevoer dat dit ernstige gevolge vir die Suid-Afrikaanse ekonomie kan inhou. Regter Prinsloo het tydens sy uitspraak gesê dat derduisende mense waarskynlik negatief deur die e-tolstelsel geraak sal word. “Mense word gyselaar gehou deur die tolpaaie.” Prinsloo het die beëdigde verklarings van vyf landsburgers in die hof voorgelees.

Sanral het vroeër die maand aangekondig dat diegene wat nie vir e-skyfies registreer nie nagenoeg ses keer meer sal betaal as die wat wel die skyfies aanskaf om op die provinsie se hoofweë te ry. Motoriste wat nie registreer, of wat nie ʼn geldige en werkende e-skyfie besit en wat nie binne sewe dae betaal nie, sal ʼn aansienlike hoër fooi betaal. Sanral sê as gevolg van kostes wat verband hou met die verhaling van betalings, insluitend fakturering en skuldinvordering, sal motoriste sonder e-skyfies R1,75c/km betaal in plaas van die 30c/km wat geregistreerde gebruikers sal moet opdok. Daar is vroeër gesê dat motoriste wat nie e-skyfies het nie 58c/km sou betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.