Internet-wonderkind en aktivis pleeg selfmoord

Aaron Swartz

Aaron Swartz (26), medestigterslid van Reddit en aktivis wat gepoog het om aanlyninhoud gratis aan die publiek beskikbaar te stel, is Vrydagaand dood aangetref.

Swartz het homself Vrydag glo in sy Brooklyn-woonstel opgehang net ‘n paar weke voordat hy verhoor sou word op aanklag dat hy miljoene joernaalberigte van ‘n elektroniese argief gesteel het. Swartz wou dié inligting vryelik aan die publiek beskikbaar stel. Indien hy skuldig bevind sou word, sou hy dekades lank in die tronk moes spandeer en ‘n fortuin aan boetes moes betaal.

“Swartz is Vrydagaand by sy huis in Brooklyn se Crown Heights dood verklaar,” het Ellen Borakove, woordvoerder vir New York se hoof mediese ondersoeker, gesê. Die polisie is na die woonstel ontbied nadat Swartz se meisie op sy liggaam afgekom het.

Swartz was ‘n wonderkind en het as 14-jarige gehelp om RSS te skep. RSS is ‘n webvoerformaat wat gebruik word om nuwe berigte en artikels van joernale, nuushooftrekke, audio en video te versamel. Hy was medestigterslid van die sosialemedia-nuuswebwerf, Reddit, wat later aan Conde Naste verkoop is, sowel as die politieke aksiegroep, Demand Progress, wat teen internetsensuur te velde getrek het.

Swartz het egter glo met depressie gesukkel. “Daar is verseker tye wat jy hartseer was,” het hy in 2007 in ‘n blog geskryf. “Miskien het ‘n geliefde jou verlaat of ‘n plan het misluk. Miskien huil jy. Jy voel waardeloos.” Hy skryf verder: “’n Depressiewe bui is só. Dit kom onverwags, en verdwyn onverwags.”

Aaron Swartz Foto: ABC News

Die Federale Buro van Ondersoek (FBI) het Swartz in Julie 2011 in Boston in hegtenis geneem en daarvan beskuldig dat hy miljoene artikels van ‘n rekenaarargief by die Massachusetts Instituut van Tegnologie (MIT) gesteel het. Aanklaers het gesê hy het by ‘n rekenaarkas op die kampus ingebreek en sy skootrekenaar gebruik om die dokumente af te laai. Kundiges het kopgekrap oor die inhegtenisneming en aangevoer dat die resultaat van die beskuldigings teen Swartz gelykstaande is aan sy PACER-program, om meer inligting vryelik aan die publiek beskikbaar te stel. “Dit maak nie sin nie,” het David Segal, uitvoerende direkteur van Demand Progress, destyds gesê. “Dit is soos om iemand in hegtenis te neem nadat hy glo te veel boeke by die biblioteek uitgeneem het.”

Swartz het in September 2012 onskuldig gepleit. Sy federale verhoor sou volgende maand begin het.

JSTOR, ‘n inskrywingsdiens wat MIT gebruik om elektroniese afskrifte van akademiese joernale beskikbaar te stel, het die afgelope week aangekondig dat hulle die “meer as 4.5 miljoen artikels” gratis aan die publiek beskikbaar gaan stel.

Swartz se familie blameer die aanklaers vir sy selfmoord. “Aaron se afsterwe is nie ‘n eenvoudige persoonlike tragedie nie. Dit is die produk van ‘n kriminele regstelsel wat wemel van intimidasie en vervolgingsgesag wat te ver gevoer word. Besluite deur beamptes van die staatsaanklaer in Massachusetts is vir sy dood verantwoordelik,” het sy familie in ‘n verklaring gesê.

“Aaron was nuuskierig en kreatief, hy was briljant, sy empatie en vermoë om lief te hê, hy het geweier om ongeregtighede te aanvaar. Dít is wat die wêreld en ons lewens opgehelder het,” het Swartz se gesin Saterdag in ‘n verklaring gesê. “Ons is dankbaar vir die tyd wat ons saam met hom kon spandeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.