Interpol help soek na vermiste Kaapse sjef

Johan van Wyk

Interpol se hulp is ingeroep om Johan van Wyk, ʼn 30-jarige sjef van Kaapstad wat op 13 Februarie as vermis aangemeld is, op te spoor.

Volgens Dessie Rechner, van die organisasie Pink Ladies wat hulle beywer om vermiste persone op te spoor, het Van Wyk vermoedelik in Dublin in Ierland vermis geraak, berig die Cape Argus.

Hy is deur ʼn familielid as vermis aangemeld nadat hy nie op 13 Februarie op sy vlug na Suid-Afrika teruggekeer het nie.

Van Wyk het op 26 November na Ierland vertrek en het met sy aankoms met sy familie in verbinding getree en laat weet hy het veilig aangekom.

Sy familie het op 17 Desember ʼn Kerskaartjie van hom ontvang. Dit was die laaste keer wat sy familie enige kontak met hom gehad het en dit was ook die laaste keer wat hy sy bankrekening gebruik het.

“Hy was veronderstel om 13 Februarie terug te keer, maar het nooit op die vliegtuig geklim nie,” het Rechner aan die Cape Argus gesê. “Wat sy verdwyning verdag maak is dat hy nooit sy vlug gekanselleer het nie. Sy toeristevisum het intussen verval, so waar ook al hy nou is, verkeer hy onwettig.”

Rechner het gesê Van Wyk se familie probeer sedert verlede jaar om met hom in verbinding te kom en hulle is baie bekommerd. Rechner sê daar bestaan ʼn moontlikheid dat Van Wyk werk op ʼn skip gekry het of dat hy deur Europa toer, maar dat dit verdag is dat hy nie sy bankrekening gebruik nie.

Kapt. Frederick van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, sê die polisie ondersoek ʼn vermistepersoon-saak. Interpol in Dublin ondersoek ook die saak.

Bron: Cape Argus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.