Interpol vang vier Nigeriese swendelaars

SAPD Interpol-lede het die week vier mans in Gauteng in hegtenis geneem in verband met bedrog wat gepaard gaan met sogenaamde 419- of lotery-slenters. Die vier mans, almal van Nigerië afkomstig, is Woensdag en Donderdag vasgetrek.

Volgens kolonel Vishnu Naidoo, ʼn polisiewoordvoerder, het die Interpol-beamptes ʼn uitleweringsbevel vir Ayodele Abrahamm Saliu van Amerika ontvang. Hy word in Amerika gesoek vir 12 sake van bedrog ter waarde van $500 000.

“Saliu is op 29 May omstreeks 21:30 by die O.R. Tambo-lughawe vasgetrek toe hy die land wou verlaat. Verdere ondersoek het tot die ander drie mans se inhegtenisname gelei.”

Die mans se selfone en rekenaars het verskeie boodskappe gehad wat verband hou met 419-slenters. Dit het ook persoonlike en bankbesonderhede bevat van verskeie mense regoor die wêreld, veral lande soos Amerika, Kanada, Engeland en Suid-Afrika.

Saliu het Donderdag in die Kemptonparkse distrikshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.