Inwoners van Thembelihle skiet op polisie

'n Man word in hegtenis geneem tydens gewelddadige betogings Maandag in die Thembelihle informele nedersetting, suid van Johannesburg. Foto: Werner Beukes/SAPA

ʼn 15-jarige meisie is beseer tydens ʼn gewelddadige diensleweringsbetoging in Lenasia, suid van Johannesburg.

Volgens ʼn polisiewoordvoerder, kapt. Hector Netshivdodza, is die meisie beseer nadat inwoners vir die polisie gevlug het na hulle ʼn vergadering bygewoon het met beamptes van die Stad Johannesburg. Hy sê inwoners van die Thembelihle informele nedersetting is deur ʼn burgemeesterskomitee toegespreek waarna chaos losgebars het en die polisie traangas en rubberkoeëls moes gebruik om die skare uiteen te jaag. Die meisie is glo deur ander inwoners omgestamp waarna daar verskeie kere op haar getrap is. Sy is na ʼn nabygeë hospitaal geneem vir behandeling. Netshivdodza sê die situasie in Thembelihle is steeds gespanne met ontstoke inwoners wat paaie met brandende bande en klippe versper. Hy sê inwoners het Dinsdagoggend met lewendige ammunisie op die polisie geskiet. Intussen is twee mense beseer nadat hulle voertuig Maandagaand met klippe bestook is toe hulle deur die gebied gery het. ʼn 11-jarige seun is ook gister beseer nadat hy glo met ʼn rubberkoeël in die gesig getref is. Talle inwoners is reeds in hegtenis geneem. Die inwoners betoog oor swak dienslewering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.