iPad-skietery: Beskuldigde glo kloustrofobies

Argieffoto

Johannes Coetzee (25) wat glo ‘n hawelose man ná ‘n gryp-en-spaandervoorval doodgeskiet het, is glo kloustrofobies, het die Pretoriase landdroshof Donderdag gehoor.

Coetzee het aangevoer dat hy oor die algemeen gesond is, hy aan kloustrofobie ly, ‘n vrees vir ingeslote spasies. Hy voer aan dat dae agter tralies vir hom “hel” is weens dié toestand.

Hy word van moord en poging tot moord aangekla nadat hy ‘n paar skote op 30 April in ‘n oop stuk veld langs Atterburyweg in Pretoria na hawelose mans geskiet het.

Volgens Coetzee se verklaring, wat deur sy prokureur Zirk Pansegrouw tydens sy borgaansoek voorgehou is, is hy na die toneel nadat sy vriendin, Lene Praeg (20) glo gekaap is. Klik hier om meer te lees.

Waardevolle items, insluitend ‘n handsak en iPad is uit Praeg se voertuig gesteel. Coetzee sê hy het die iPad se sein gevolg en die polisie geskakel. Hy het ‘n verbygaande polisievoertuig aangekeer en hulle het die toestel se GPS-sein gevolg. “Ek het vier waarskuwingskote in die grond in geskiet toe ek geglo het dit is toelaatbaar. Ek was oortuig die mense [vermeende rowers] sou bewapen en gevaarlik wees, en daarom het ek die polisie geskakel.” Coetzee sê hy is nie seker of enige van die polisiebeamptes, wat saam met hom was, skote gevuur het nie, maar hy het gesien een van die beamptes haal sy vuurwapen uit toe hulle die mans nader.

“Ek was oortuig dat ek binne die wet optree. Die situasie is deur die gewelddadige misdaad teen Lene veroorsaak. Ek het nie bedoel om moord te pleeg nie. Ek het nie op enige iemand gemik nie.”

‘n Hawelose man is getref en het later gesterf.

Die polisiebeamptes het glo aangehou om die iPad-sein te volg en het uiteindelik vier mans, tussen 16 en 30 jaar oud, in hegtenis geneem. Die polisie het die iPad in hulle besit opgespoor.

Coetzee sê sy vuurwapen is gelisensieerd en is vir ballistiese toetse gestuur. Hy het nie ná die skietery gevlug nie, alhoewel hy nie dadelik in hegtenis geneem is nie.

Staatsaanklaer Sipho Letsoalo het nie borg teengestaan nie, maar versoek dat Coetzee, as deel van borgvoorwaardes, weekliks by die Brooklyn-polisiestasie moet aanmeld. “Die staat se saak teen Coetzee is waterdig,” het Letsoalo gesê.

Coetzee is op borgtog van R5 000 vrygelaat en die voorwaarde van die hand gewys.

Die saak sal in Juniemaand hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.