Is ruimtewesens werklik? CIA erken geheime basis bestaan

Die hoogs geheime basis, Area 51, bestaan wél, het die CIA uiteindelik erken.

Die geheimsinnigheid van oor dié gebied in die Nevadawoestyn in die omgewing van Las Vegas, het al jare samesweringsteorie-aanhangers op hol, met veral ‘n vaste geloof dat bewyse van buiteruimtelike wesens daar gehou word, en dat die Amerikaners minstens probeer om vlieënde pierings te bou deur tegnologie van gestrande VVV’s te probeer nadoen.

Teen die middel van die vorige eeu het daar ‘n groot toename in die aanmelding van VVV’s in dié gebied voorgekom, en die VVV-gelowiges het geglo al die bewyse van die beweerde VVV-ongeluk by Roswell is hierheen gebring en ondersoek. Nou het die CIA uiteindelik die ope geheim erken – Area 51 bestaan wel, en is onder meer gebruik om die U2 verkenningstuie en die Oxcart-tegnologie te toets.

Oor enige van die buite-aardese bewerings is egter nie ‘n dooie woord gerep nie. Die bestaan van die basis was lank reeds uit ander bronne, soos Google Maps bekend. Die basis, of dan die geromantiseerde weergawe daarvan, het al verskeie kere in rolprente ‘n draai gemaak, waaronder die epiese film Independence Day.

Wetenskaplikes het lank reeds vermoed dat die “VVV’s” wat onder meer deur vlieëniers waargeneem is, niks anders as die verkenningstuie was wat getoets is nie. Dié tuie gebruik ‘n vlughoogte veel hoër as enige ander vliegtuig, en het titatniumrompe wat ‘n vreemde glans in die sonlig afgee. Boonop wikkel dié vliegtuie teen ‘n spoed vinniger as ‘n koeël en is die brandstoftenks, wat baie op ‘n VVV trek, baie groot.

Weens die geheime aard van die basis kon die owerheid nie inligting oor die verband tussen U2- en Oxcart-vlugte en VVV-waarnemings bekend maak nie, wat eenvoudig die vermoedes dat die owerheid met ruimtewesens saamwerk aangeblaas het. Verskeie mense wat glo by die basis gewerk het, het ook taamlike wilde aansprake gemaak oor hul wedervarings met ET en sy maat in die basis.

Fisici, hoewel hulle glo daar is heel waarskynlik lewe op die miljard of so teoreties bewoonbare eksoplanete, is baie skepties dat fisiese kontak moontlik kan wees. Die fisikawette wil nie saamspeel om die tegnologie te voorsien dat teen ligspoed gereis kan word wat nodig is vir besoeke aan selfs die naaste sterre nie.

Die samesweringaanhangers se vaste geloof dat VVV’s by Area 51 werklik is, is nie bevredig nie. Nie nou nie .. en môre is nog ‘n dag….

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.