Italiaanse dorpie stop Oscar se borgskap

Oscar Pistorius verskyn in die Pretoria-landdroshof tydens sy borgaansoek. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Italiaanse dorpie Gemona het sy bande met Oscar Pistorius, wat verdink word van die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp, verbreek.

Paolo Urbani, die burgemeester van Gemona, het aan Rapport gesê dat die dorp nie met sy vyf jaar lange borgskap met Pistorius gaan voortgaan nie. “Die kontrak met Oscar is beëindig. Ons is nie haastig om ʼn nuwe ambassadeur te vind nie.” Pistorius is in 2011 as ambassadeur van die dorp se sportprogram aangestel. Volgens die kontrak sou Pistorius R170 000 per jaar plus verblyf en uitgawes kry in ruil daarvoor dat hy vier maande per jaar daar geoefen het.

Volgens Urbani was dit goeie bemarking vir die dorp aangesien daar besluit is om die sportfasiliteite op te gradeer met die hoop om internasionale atlete te kry om tydens die Europese somer daar te oefen. “Dit is belangrik dat Oscar weet ons is nie kwaad vir hom nie. Ons oordeel hom ook nie. Hy kan slegs deur die reg geoordeel word.” Die Italiaanse dorpie se naam het tydens Pistorius se borgaansoek opgeduik nadat die staat ʼn artikel in die vrouetydskrif Sarie aangehaal het waarin daar beweer word dat Pistorius ʼn huis daar het. Urbani sê Pistorius was die ideale kandidaat vir die ambassadeurskap aangesien hy die perfekte voorbeeld is van “iemand wat nie sit en wag” vir iets om te gebeur nie.

In 1976 was Gemona die middelpunt van ’n aardbewing wat 6,4 op die Richterskaal geregistreer het. Daar het 989 mense in die aardbewing omgekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.