IVP nié deel van nuwe koalisie

ifp logoDie Inkatha Vryheidsparty (IVP) het hom Woensdag gedistansieer van die nuwe Kollektief vir Demokrasie (CD), ʼn koalisie deur opposisiepartye.

“Die leierskap van die IVP was geskok om vanoggend by die media te hoor dat die party by ʼn formele koalisie aangesluit het,” het Sibongile Nkomo, IVP-LP en sekretaris-generaal van die party, in ʼn verklaring gesê. “Die IVP se nasionale raad was in die verlede al betrokke by omvattende besprekings oor multi-party samewerking, die toekoms van soortgelyke samewerkingsooreenkomste in Suid-Afrika en die IVP se rol in sulke forums.”

“Lede van die nasionale raad het twee modelle van samewerking oorweeg. Een van dié modelle was dat opposisiepartye in die parlement sal saamwerk, terwyl hulle hul eie identiteit en filosofie behou. Partye sal dan vir die uitslag van die verkiesing wag om te besluit hoe hulle alliansies in verskillende provinsies kan vorm,” het Nkomo gesê.

Volgens Nkomo het die lede eenparig ten gunste van dié opsie besluit, om die huidige stelsel van samewerking tussen opposisiepartye te behou. “Verskeie partye het saamgekom om byvoorbeeld die Wet op die Beskerming van Staatsinligting teen te staan en korrupsie te beveg,” het sy bygevoeg.

“Dít bly ons posisie.”

“Die IVP het nie ʼn nuwe party goedgekeur nie en ons het ook nie ingestem om deel te wees van ʼn formele opposisie-koalisie vir die verkiesing in 2014 nie.”

Nkomo het gesê die IVP het in die verlede erge uitdagings beleef wanneer hy by formele koalisies aangesluit het. “Die IVP het byvoorbeeld in 2004 in KwaZulu-Natal aan die verkiesing deelgeneem deur ʼn koalisie met die Demokratiese Alliansie, naamlik die “Koalisie vir verandering”. Meer as 250 000 bedorwe stembriewe is ingedien. “Ondersteuners het vir altwee partye op die stembrief gestem, wat ʼn aanduiding is van die vlak van verwarring wat dit onder kiesers veroorsaak het. Dit was nadelig vir die IVP.”

Lees ook:
Opposisiepartye vorm koalisie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Hierdie koalisie is absoluut gedoem tot mislukking.Net een dag,en die eerste party is weg.Watter party is volgende om weg te wees.?Al wat gaan werk is om saam te bring diegene wie uit innerlike oortuiging saamhoort.Hierdie partye het geen gemeenskaplike visie nie.Wat gaan hulle saamhou?Dis nie genoeg dat hulle teen die ANC gekant is nie.Vorentoe gaan hulle bots oor beleid.
Die VF+ se leiers is nie eerlik met hulle ondersteuners nie.Wat ek op hierdie forums lees is dat die VF+ se ondersteuners nog praat van apartheid en selfbeskikking.Hoe rym dit met COPE wat uit die ANC weggebreek het,en geskoei is op die freedom charter?Die VF+ se leiers besef die politieke realiteite in Suid Afrika,dat apartheid nooit gaan terugkom nie,maar hulle is te bang om dit vir hul ondersteuners te se,want dan verloor hulle die bietjie ondersteuners wat hulle nog het.
Die VF+ gaan om die waarheid te se n meulsteen om die nek van COPE word,want die ANC sal kan se dat COPE is in koalisie met mense wat apartheid voorstaan.Dit kan COPE se kanse benadeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.