Die 74-jarige man wie se liggaam Vrydag naby Albatros-strand in Jeffreysbaai opgespoor is nadat hy deur ‘n 4m-lange witdoodshaai aangeval is, se naam is bekend gemaak.
Burgert van der Westhuizen was glo besig om te snorkel toe hy aangeval is. “Die gemeenskap in Jeffreysbaai is geskok gelaat ná die aanval,” het ‘n branderplankmaatskappy aan EWN gesê. Volgens EWN was Van der Westhuizen ‘n ervare swemmer.
Maroela Media het Vrydag berig ʼn man se liggaam is by Jeffreysbaai in die Oos-Kaap aangetref nadat ʼn haai hom aangeval het. “Vrywilligers van die NSRI se seereddingspan is Vrydag omstreeks 11:30 ontbied ná berigte oor ʼn haai-aanval,” het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in ʼn verklaring geê. “Die voorval het by Lower Point langs Albatros-strand plaasgevind.”
Die witdoodshaai was glo só groot dat ooggetuies aanvanklik gedink het die man is deur twee haaie aangeval.
Strande in die omliggende gebiede is steeds ná die aanval gesluit tot verdere kennisgewing.
Skielik het die haai se lengte afgeneem van 5 en ‘n half na 4 meter.