Jaagduiwel Julius Malema in die hof

Julius Malema by die bekendstelling van die EFF Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema by die bekendstelling van die EFF Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema, die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV), het Vrydag in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn nadat hy Donderdagaand in hegtenis geneem is omdat hy die spoedgrens verbreek het.

Malema het vlugtig in die hof verskyn voor landdros R Mphela wat die saak tot 29 Januarie uitgestel het. Die direkteur van openbare vervolging moet die staat inlig oor verdere stappe in die saak.

“Malema is Donderdagaand in hegtenis geneem nadat hy om 18:42 teen 215 km/h in ʼn 120 km/h-sone op die N1 in die Vaal gery het,” het Busaphi Nxumalo, woordvoerder van die Gautengse verkeerspolisie, gesê.

Hy word aangekla van roekelose en nalatige bestuur en dat hy die spoedgrens oortree het.

Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Floyd Shivambu, woordvoerder van die EVV, was in die hof om Malema te ondersteun. Daar was ook ander EVV-ondersteuners in die hof. Shivambu is die voormalige woordvoerder van die ANC-jeugliga.

Van die ondersteuners het buite die hof struggle-liedjies gesing, wat losweg soos volg vertaal kan word: “As jy die stort [pres. Jacob Zuma] ondersteun, is jy mal”. Hulle het ook die “skiet die Boer”-lied [Dubula ibunu] gesing, maar die woord “boer” [bubu] met “Zuma” vervang.

Die EVV het Vrydagoggend in ʼn verklaring gesê hy, en Malema, vra om verskoning vir die oortreding. “EVV, en sy hoofvegter, CIC [commander in chief] Julius Malema, vra om verskoning vir die voorval nadat die spoedgrens op die N1 in die Vaal oortree is. Die CIC, wat ʼn knap skedule handhaaf, was van Bloemfontein onderweg na ʼn dringende program in Alexandra,” lui die verklaring.

Die verklaring het in besonderhede sy besige skedule vir die afgelope paar dae uiteengesit.

“EVV waardeer die volharding waarop die polisie die saak van die CIC hanteer het.” Die party voer aan die polisiebeamptes se hoofde het “probeer om hulle te oorreed om nie borgtog toe te staan nie”. Die party sê hy moedig Suid-Afrikaners aan om nie “hierdie betreurenswaardige voorbeeld” te volg nie.

Malema is nie die enigste bekende Suid-Afrikaner wat Donderdagaand aangekeer is nie. Steve Hofmeyr is vrygelaat op borgtog van R500 nadat hy in Bronkhorstspruit aangekeer is omdat hy die spoedgrens oortree het. Klik hier om Steve se reaksie oor sy inhegtenisneming te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ria Maritz ·

Gaan hierdie EFF ondersteuners, met die sing van hierdie gewraakte liedjie, ook moontlike vervolging in die gesig staar ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.