Jaagduiwel Julius weer in die hof

Julius Malema, leier van die EFF. Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema, leier van die EFF. Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema, leier van die EFF, sal na verwagting Woensdag in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn op aanklag van roekelose of nalatige bestuur en dat hy die spoedgrens verbreek het.

Die saak is in Desember uitgestel sodat die direkteur van openbare vervolging die staat kon inlig hoe om die saak verder te hanteer.

Malema is op 19 Desember in hegtenis geneem nadat hy op die N1 in die Vaal teen 215km/h in ʼn 120km/h-sone gery het. “Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat,” het Busaphi Nxumalo, woordvoerder van Gauteng verkeer, in daardie stadium gesê.

Malema en die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het ná sy inhegtenisneming ʼn verklaring uitgereik waarin hy om verskoning vra. “Die bevelvoerder het ʼn vol skedule, hy was van Bloemfontein onderweg na Alexandra om ʼn dringende program by te woon,” het die EFF in die verklaring gesê.

Malema het die hof in November genader om kriminele klagtes teen hom te laat vaar, maar hy was nie suksesvol met sy aansoek nie. Sy hofsaak begin in September. Hy staar aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en swendelary in die gesig.

Steve Hofmeyr is op dieselfde aand as Julius Malema in hegtenis geneem vir ʼn spoedoortreding. Hofmeyr het 169 km/h in ‘n 120 km/h-sone op die N4 gery en is op borgtog van R500 vrygelaat. Hy het op 23 Januarie weer in die hof verskyn en is ʼn boete van R10 000 opgelê. Sy rybewys is nie opgeskort nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eugenie ·

Julius die jaagduiwel, en/of Julius die duiwel. Sien uit na die uitspraak.

AmY ·

Hoop hy gaan so edel en eerbaar wees soos Steve, en die boete betaal en klaarkry. Lang uitgerekte hofsake kos geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.