Jaagduiwel moet glo honde gaan kos gee

Argieffoto

‘n Man wat glo gejaag het om sy pa se honde te voer was een van drie mans wat Sondagoggend op die N3 vir spoedoortreding in hegtenis geneem is.

“Die 28-jarige het met sy BMW X6 teen 173km/h in ‘n 120km/h-sone gejaag,” het hoofsuperintendent Wilfred Kgasago, woordvoerder van die metropolisie in Ekurhuleni, gesê. Hy het aan die beamptes gesê hy was oppad om sy pa se honde in Kemptonpark kos te gee. ‘n Saak van roekelose of nalatige bestuur is oopgemaak.

“’n 29-jarige man het met sy BMW M3 teen 166km/h op dieselfde pad gejaag. Hy het beweer hy is laat vir werk. ‘n 32-jarige man in ‘n Volkswagen Golf, wat ook beweer het hy is laat vir werk, het teen 163km/h gejaag,” het Kgasago bygevoeg.

Die mans sal binnekort in die landdroshof in Edenvale verskyn. Hulle is op borg van tussen R500 en R1 000 vrygelaat.

Nege motoriste is Vrydag en Saterdag in Brakpan vir spoedoortreding aangekeer. ‘n 19-jarige het 100km/h in ‘n 60km/h-sone gejaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.