Jaagduiwel vas ná video op YouTube

ʼn Ferrari-bestuurder wat graag wou spog hoe hy drie keer vinniger as die spoedgrens met sy supermotor ry en ʼn film daarvan op YouTube gelaai het, kan moontlik tronkstraf opgelê word.

YouTube-kykers het dié jaagduiwel se video by die polisie aangemeld. Die 50-jarige dokter het ʼn ses minuutlange video opgelaai wat wys hoe hy met sy Ferrari 458 Italia deur Fukuoka in die suide van Japan rondry. Die man het sowat 84 km per uur vinniger as die spoedgrens gery, het die polisie gesê. Die spoedgrens is betreklik laag in Japan en ʼn spoedgrens van 40 km per uur in stedelike gebiede is algemeen. Die man het slegs sowat 124 km/h gery in dié motor, wat amptelik sowat 325 km/h kan haal. Die plaaslike media het hom aangehaal toe hy glo aan die polisie gesê het: “Ek wou hê mense moet die aantreklikheid van ʼn Ferrari begryp. Ek wou trots gevoel het.” Luidens berigte het ontstoke YouTube-gebruikers die polisie in kennis gestel van die oortreding, en beamptes het die spoed van die motor bepaal deur die afstand wat die voertuig afgelê het.

Beamptes het die motor en bestuurder deur die beeldmateriaal identifiseer en ʼn woordvoerder van die polisie het aan AFP gesê dat die dokter, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, kan tot ses maande tronkstraf opgelê word of ʼn maksimum boete van 100 000 yen ($1 220) ontvang indien hy skuldig bevind word. Die film, Ferrari 458 Italia drive in Japan 2011 was Saterdag steeds op YouTube beskikbaar en die kamera is agter die bestuurder in die $220 000-voertuig gemonteer. Die video wys hoe die voertuig ander voertuie verbysteek, maar sukkel om ʼn motor, wat soos ʼn Porsche lyk, in te haal.

Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.