Jacaranda FM ondersoek saak ná donasies ‘verdwyn’

Miguel Proenca

Jacaranda FM het Vrydag met die geskorste omroeper Miguel Proenca vergader nadat geld, wat vir ‘n 10-jarige kankerlyertjie ingesamel is, glo vermis geraak het.

Proenca het in November verlede jaar die donasies namens Reneilwe Mashego, van Bosbokrand, ingesamel as deel van die radiostasie se betrokkenheid in die November-projek, het Beeld berig. Masego Serape, Jacaranda FM se woordvoerder, het Donderdag gesê die saak word nog ondersoek.

Koen Koekemoer, Proenca se prokureur, het bevestig dat sy kliënt Vrydag by Jacaranda se hoofkantoor moet aanmeld. “Ons het egter nog geen kennisgewing ontvang van ‘n dissiplinêre verhoor nie,” het Koekemoer gesê.

Jacaranda FM het intussen voorlopig besluit om Proenca se foto en bemarkingsmaterial vir die platejoggie van sy webwerf te verwyder.

As deel van die radiostasie se fondsinsamelingsprojek in November 2012 is sowat 300 kaartjies teen R50 elk verkoop (‘n totaal van R15 000). Die fondse is aan Proenca oorhandig. Hy het vroeër die jaar glo R300, drie komberse en ‘n paar kledingstukke aan Reneilwe se ouma, Cornelia Mashego, oorhandig. Dit is egter ook nog nie duidelik wat met die verskeie pryse, wat deur ondernemings geskenk is, gebeur het nie. Dié geskenke sluit elektroniese toerusting ter waarde van R9 000 in wat deur Makro geskenk is, en twee R5 000 geskenkbewyse wat deur Spar Laeveld geskenk is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.