Jack Parow-insident laat sosiale media gons

Foto: Jacques Breedt

Sosiale media gons nog oor die storm wat oor Jack Parow se kop losgebars het na hy Vrydagaand van die verhoog verwyder moes word tydens ʼn konsert in Newcastle. Die organiseerders het sy konsert gestop na ʼn groep mans oproerig geraak het en hom fisies gedreig het oor sy taalgebruik voor kinders by die jaarlikse Vodacom Winterfees.

Steve Hofmeyr, Zahara en Robbie Wessels was ondermeer van die sangers wat ook tydens die fees opgetree het.

Pretoria News het gister berig Parow het gesê dit was ‘cool’ om van die verhoog af gehaal te word.

Hy het gesê hy was onbewus van die oproering tot na hy van die verhoog verwyder is. Die insident het gebeur terwyl Parow besig was om Dans Dans Dans te sing.

“Een ou het my gevloek en gesê ek stel sy kinders bloot aan my musiek maar ek dink dit is sy probleem. Maar dit was stupid, ek gee nie om nie. Die skare het my naam vir nog ʼn halfuur na die voorval geskreeu,” het Parow gesê.

Hy het gesê slegs ʼn groep van 15 “omies” uit die skare van 15 000 het die oproering veroorsaak en het hy glo nog drie ure na die vertoning gestaan om handtekeninge uit te deel.

Maroela Media het gister in ʼn meningspeiling lesers gevra wat hulle van dié voorval dink. Teen Donderdagmiddag was die resultate soos volg:

–       Organiseerders moes van beter geweet het. Jack Parow moet nie na konserwatiewe dorpe genooi word nie. (13% stemme)
–       Jack Parow is ‘n voorloper in die Afrikaanse musiek-genre – mense moet hom uitlos (10% stemme)
–       Dis Jack Parow! Ouers moes van beter geweet het voordat hulle hul kinders saamgeneem het. (26% stemme)
–       Dis Jack Parow se eie skuld. Hy moet leer om sy gehoor in ag te neem. (51% stemme)

Op ons Facebookblad het Daantjie Badenhorst gesê dis goed dat dit gebeur het. “Jack Parow gee Afrikaanse musiek, en Afrikaans oor die algemeen, ‘n slegte naam.

Adele Harmse Moolman het gesê: “Ag nee sh@t, mense vloek en suip en praat met hulle vrouens soos k@k by die huis, maar as Jack Parow daaroor sing dan is hy die uitverkorene, skrik wakker Suid-Afrika – julle is hippokritte!

Riaan Grobler meen mense soos Jack beteken meer vir die voortbestaan van Afrikaans as al die taalstryders bymekaar. “Die taal is meer dinamies en divers as ooit tevore. Deal with it.

Marius Vermaak het gesê: “Ek vermy liefs Jack Parow se musiek en konserte, dis nou nie my tipe musiek nie. Maar let’s face the facts: Jack Parow sells! Jack Parow doen finansieel beter as BAIE ander Afrikaanse sangers.

Sien nog menings hier.

(Waarskuwing: die liedjie bevat kragwoorde en is nie geskik vir kinders of sensitiewe lesers nie.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.