Jack Russell byt pasgebore baba dood

Foto’s van die gesin volg onderaan die berig.

ʼn Agt dae oue baba is Dinsdagaand deur ʼn Jack Russell-kruising in Shropshire, Engeland, doodgebyt.

Harry Harper se skedel is glo gekraak nadat die hond hom glo slegs een keer gebyt het. Die hond is intussen uitgesit, berig MailOnline. Volgens bure het die kind se verslae ma, Mikayla Bell, uit die huis gehardloop en paramedici gesmeek om haar pasgebore seuntjie se lewe te red. Harry is na die Pincess Royal-hospitaal gehaas, maar het kort daarna aan sy wonde beswyk.

PJ, die Jack Russell, was een van twee honde wat in die drieslaapkamerhuis saam met Bell en haar ouers en jonger sibbe gewoon het.

Bell (19) het glo twee weke gelede getwiet hoe die hond ʼn ogie van een van die gesin se sagtespeelgoed afgeskeur het.

Volgens die polisie was Harry se afsterwe ʼn “tragiese ongeluk”. Beamptes ondersoek die moontlikheid dat die hond uit jaloesie opgetree het.

Bell en haar man, Tom Harper (19), is deur hul ouers getroos.

Nigel Pitchford (71), een van die bure, het gesê ten minste een van die twee honde was “baie kwaai”. “Dit is baie hartseer. Die hele straat is geskok deur dit wat gebeur het. Ek wou een keer ʼn Kersfeeskaartjie in die posbus gooi en een van die honde het na my hand gehap. Dit was ʼn klein maar kwaai hondjie.”

Bell, ʼn deeltydse model, woon saam met haar ouers Gordon (42) en Teresa (40) en drie van haar sibbe. Sy is een van ses kinders. Harper, die pa, woon saam met sy ouers.

ʼn Nadoodse ondersoek sal Donderdag uitgevoer word om die oorsaak van Harry se afsterwe te bevestig. Neil Jamieson, speurder van West Mercia Police, het gesê hul ondersoek duur voort. “Dit lyk egter of die baba deur die hond doodgebyt is,” het hy gesê.

[nggallery id=94]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.