Boer Jaco gereed om ʼn kragtoer te lewer

Jaco Schoonwinkel gaan weer sy krag op die groot verhoog uitstal. (Foto: Verskaf)

Dis weer tyd vir ʼn bietjie boerekrag op die internasionale verhoog: Jaco Schoonwinkel gaan spiere bult by die World’s Strongest Man-kompetisie.

Nadat ʼn lelike kniebesering verlede jaar sy deelname kortgeknip het, is die Swellendamse boer oorgehaal om vir die res van die sterkmanwêreld te wys presies waar ʼn Suid-Afrikaanse Dawid die wortels gegrawe het.

Volgens sy vrou, Mikayla, is sy deelname ʼn merkwaardige prestasie.

“Sy toewyding en harde werk om te kom waar hy graag wil wees, is ongelooflik en hy is ʼn uitstekende voorbeeld vir ons seuntjie. Om onder die top 30 sterkste atlete wêreldwyd gekies te word is pleinweg net wow,” het sy gesê.

Schoonwinkel oefen vier keer per week vir ʼn paar uur per sessie. Hy maak ook tyd om sy krag te bou selfs ná ʼn volle dag se werk op die plaas.

En volgens ingeligtes is hy vanjaar sterker en meer gemotiveerd as vóór sy ontydige besering.

“Hy werk baie hard saam met sy afrigter (Rory Scheepers) om gereed te wees vir die volgende kompetisie en dit gaan baie goed met sy voorbereiding. Ek kan sien dat sy kop reg is en dat hy gereed is om weer deel te neem.”

Nodeloos om te sê volg die pad na sterkmansukses soms ʼn harde en eensame roete. ʼn Atleet moet byvoorbeeld oorsee aan amptelike Strongman-kompetisies deelneem en op die podium staan voordat hy na die WSM uitgenooi word.

Boonop is dit ook nie soos rugby en krieket een van Suid-Afrika se hoofstroomsportsoorte nie en dit is moeilik om die nodige ondersteuning en borge te kry.

Tog het Schoonwinkel al vantevore aan Maroela Media bevestig dat braaivleis vir soveel meer spierkrag as ʼn proteïendrankie sorg.

“Ja, dit het beslis gehelp om krag te bou; veral die hoeveelheid wat ek eet,” het Schoonwinkel destyds laggend vertel.

Die World’s Strongest Man-kompetisie word van 1 tot 5 Mei in Myrtle Beach, Suid-Carolina, in die VSA aangebied.

(Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Kyk die manne is verskriklik sterk, maar dis vir my so cute as hulle hardloop…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.