Jaguar-bestuurder kry waarskuwing

Argieffoto van ‘n Jaguar XF

Die bestuurder van ‘n Jaguar XF-motor wat Sondagoggend in ‘n huis in Doringkloof, Centurion vasgejaag het, het ‘n skriftelike waarskuwing ontvang.

Die man het glo Woensdag ‘n skriftelike waarskuwing ontvang, wat hom oor die aanklag van opsetlike saakbeskadiging, die ondersoek na die voorval en sy regte inlig, het ao Annabelle Middelton, woordvoerder van die polisie, gesê. Hy is nie in hegtenis geneem nie en geen verhoordatum is vasgestel nie. “Dit is nie ‘n skedule een oortreding nie, so daar is nie ‘n rede om hom in hegtenis te neem nie. Onthou dat daar sekere oortredings is waarvoor ‘n persoon nie in hegtenis geneem word nie. In sulke gevalle word slegs ‘n waarskuwing uitgereik terwyl die ondersoek voortduur,” het Middelton gesê.

Sodra die ondersoek afgehandel is, kan ‘n verhoordatum vasgestel word. “En hy hardloop nie weg van ons [die polisie] nie.”

The Star het Dinsdag berig dat die bestuurder, wat glo by die intelligensiediens werk, van die toneel gevlug het. Die motor en sy werknemerskaart, wat aan LN Makamu uitgereik is, is agtergelaat. Die polisie het glo ook op ‘n leë bottel whiskey en verskeie bierbottels in die motor afgekom. Die motor is ook glo vir 12km ver met ‘n stukkende band gery.

Brian Dube, woordvoerder vir die ministerie van staatsveiligheid, het gesê hy is nie bewus van die voorval of enigiemand in die departement wat ‘n Jaguar bestuur nie, het The Star berig. Die polisie wou nie die man se identiteit bekendmaak nie.

Zee Pieterse, die inwoner, het gesê die slag was so hard dat die Jaguar deur die heining gebars het, ‘n betonpilaar tussen die twee motorhuisdeure omgestamp en twee geparkeerde motors in die motorhuis tot teen die voorste muur van die motorhuis gestamp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.