Jaguar jaag deur huis se heining

Argieffoto van ‘n Jaguar XF

Die polisie is op soek na die bestuurder van ‘n donkerblou Jaguar XF wat glo deur die heining van ‘n huis in Centurion gejaag het, en toe weggehardloop het.

Die ongeluk het grootskaalse skade aangerig, berig Beeld. Die man het glo vroeg Sondagoggend deur die metaalhek van die huis in Doringkloof, Centurion, gebars en vir ten minste nog 10m ver gery voordat hy teen die motorhuis tot stilstand gekom het. ‘n Geparkeerde motor in die motorhuis is ook beskadig. Die polisie het ‘n leë bottel whisky en ‘n kas bier in die Jaguar opgespoor. Die polisie sê die man het kilometers ver met ‘n beskadigde linkervoorband gery.

“Ons het omstreeks 03:00 wakkergeskrik van die harde slag en was ‘n paar minute later buite. Teen dié tyd was die bestuurder reeds weg,” het Zee Pieterse, huiseienaar, aan Beeld gesê. “Die bestuurder is steeds soek,” het lt. Linda Jerling, woordvoerder van die polisie, gesê. “’n Klag van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek.”

Die polisie het die skraapmerke wat die beskadigde band op die teer gelaat het, vir 5km gevolg voordat hulle die vermiste motorband opgespoor het. Jerling sê die bestuurder het ‘n identiteitskaart met ‘n werknemernommer daarop in die motor agtergelaat.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.