Jan Ellis – ‘n Legende sterf nie oornag

Die foto van Jan Ellis het destyds in die Huisgenoot verskyn.

Jan Ellis het gesterf. Die talle berigte verwys na die groot man wat 12 jaar lank reuse spore in Springbokrugby getrap het. Groot in statuur eerder as lyf al het hy “maar net” ‘n outydse ses voet twee in sy sokkies gestaan, en die skaal se naald net anderkant die 200 pond laat vassteek.

Maar ‘n groot hart, en groot hande, dié had Ellis, en ‘n teenstander wat hom probeer plattrek het, het dikwels agtergekom dit was baie moeilik om die man met die bedrieglike spoed en ongewone hardloopstyl neer te trek. Op sy eerste toer het dit geblyk dat net die vleuel, Sid Nomis, vinniger as hy kon hardloop.

Uiteindelik het Ellis 38 toetse, net soveel soos die legendariese Frik du Preez, gespeel. Frik het aanvanklik flank gespeel en Ellis het bietjie sinkplaatpad geloop om die toetsspan te haal.

Maar toe hy eers as 22-jarige in die toetsspan is, het hy ‘n instelling geword. Eers op 34, 38 toetse en sewe toetsdrieë later, het die keurders anderpad gekyk. In 74 gewone wedstryde in die Groen en Goud het Ellis ‘n ongelooflike 32 keer agter die opponente se doellyn gaan kuier.

In die toetse wat Ellis gespeel het was die Springbokke meer as 65 persent van die kere aan die wenkant. Hoewel Ellis sterk geassosieer word met Piet Greyling en Tommy Bedford as losmaats, het dié drietal net in ‘n dosyn toetse die loskombinasie gevorm.

Ellis, wat sedert hy ‘n jong kannetjie was, sy rugby van Gobabis in die destydse Suidwes-Afrika af gespeel het, is ‘n sprekende voorbeeld dat iemand nié noodwendig die beste talent in die groot stede raakloop nie. Maar Ellis het hard gewerk. Hy het twee keer per dag gehardloop, baie bulte geoefen, en dikwels swaar voorwerpe in sy hande gehad as hy hardloop.

Maar vreemd genoeg – in Suidwes self was hy nie altyd oral ewe gewild nie. Hoewel hy soms Suidwes aangevoer het, is hy talle kere as kaptein en as speler gepos. Paul Dobson skryf dat hy op tuisbodem as die Rooi Duiwel bekend gestaan het – en nie so seer oor sy rooi hare nie.

Ellis was besonder veelsydig. Op senior vlak het hy ook agsteman en slot gespeel, maar as skoolseun het hy tussen losskakel en stut rondgeval. Op hoërskool was hy stut, maar het na skoolure vir die dorpspan heelagter gespeel.

Omdat Ellis twaalf jaar lank ‘n yster vir die Bokke was – so lank as wat dit ‘n sub A’tjie geneem het om sy droommeisie matriekafskeid toe te neem, was hy bitter baie skoolkinders se held.

En ja, na sy rugbydae het hy weer ‘n slag die land aan sy voete gehad – toe hy die slagoffer van ‘n Leon Schuster-fliek was. Ellis se vlammende humeur is in spitstyd beproef deur iemand wat vir Jan, wat in die stilstaande verkeer vasgevang was, aggressief getoet het om sy ry te kry.

Amper was daar groot slae.

En toe word Ellis in ‘n rooftog gewond, en sy gesondheid is geknou. En nou het kanker hom weggeneem.

Die nuus het vir baie hardebaarde laat dink aan die dae toe hulle as klein kannetjies vasgenael voor die radio gesit het en geluister het Spiekeries in beeldryke boeretaal weergee hoe Ellis die annerlanders wikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elize ·

Ja dit is so jammer dat al hierdie mooi goed wat nou van Jan gese word,nie gese is toe hy nog gelewe het nie.Toe hy klaar vir SA Rugby gespeel het,en sy beste gelewer het,het niemand uit gevind hoe dit met hom gaan,nie.
Hierdie blomme moes toe hy gelewe het,vir hom gegee gewees het.Niemand het eens geweet hy het kanker nie.
Sterkte aan sy vrou en kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.