Japan fnuik weer walvisreservaat

Aktiviste betoog in Panama ten gunste van ‘n Suid-Atlantiese reservaat vir walvisse. Foto: AFP

Japan het weer ‘n stokkie gesteek voor planne van Suid-Afrika en Suid-Amerikaanse lande om ‘n walvisreservaat in die Suid-Atlantiese Oseaan te skep.

Die voorstel by die vergadering van die Internasionale Walviskommissie (IWK) in Panama vir so ‘n reservaat, het 38 stemme gekry, terwyl Japan en sy vennote 21 stemme gekry het. Die IWK se reëls bepaal dat sulke voorstelle met ‘n voldoende konsensus van ‘n 75 % meerderheid aanvaar moet word.

Die voorstel vir die reservaat het meer simboliese waarde aangesien daar in ieder geval nie veel walvisjag in dié deel van die wêreld voorkom nie. Boonop jag Japan in elk geval jaarliks honderde walvisse in verklaarde reservate soos naby Antarktika waar hulle gedurig deur aktiviste lastig geval word. Dit ontlok ook die woede van Australië en Nieu-Seeland waar walviskyk ‘n groeiende industrie is.

Japan het met die aanvang van die vergadering gesê daar moet ‘n balans tussen bewaring en volhoubare benutting gevind word. Japan het ‘n kultuur van walvisverbruik, en benut ‘n skuiwergat deur walvisse vir beweerde wetenskaplike navorsing dood te maak, en dan die vleis vir die mark beskikbaar te stel.

Japan word daarvan beskuldig dat dit stemme koop, spesifiek verwysend na mini-eilandstaatjies wat swaar van Japan afhanklik is soos Nauru en Tuvalo. Japan is egter nie al land wat agter die deur staan nie. Ook Ysland en Noorweë vang op beperkte skaal in hul eie omgewing walvisse, en het teen die voorstel gestem. Onder die ander lande wat daarteen gestem het is Rusland, Suid-Korea en China.

Monaco het voorgestel dat die VN versoek word om te help om die kommissie se besluite af te dwing. Volgens Monaco is die kommissie se grootste probleem dat lidlande van die kommissie hulle nie aan besluite steur nie.

Hoofbron: http://www.japantoday.com/category/national/view/whaling-nations-defeat-proposed-atlantic-sanctuary

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.