Jasmin: Gemeenskap sê hul sal voortgaan om saak by te woon

Gemeenskapslede kom voor die Brakpan-landdroshof bymekaar. Foto: SAPA

Gemeenskapslede kom voor die Brakpan-landdroshof bymekaar. Foto: SAPA

Die gemeenskap van Brakpan aan die Oos-Rand sê hulle sal voortgaan om die saak van ‘n 23-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy die vierjarige Jasmin Pretorius verkrag en vermoor het, by te woon.

Die verdagte het vandag vlugtig in die Brakpan-landdroshof verskyn. Hy het dieselfde swart en grys strepieshemp aangehad as tydens sy hofverskyning verlede week. Pieter van Niekerk, die prokureur wat vir die verdagte aangestel is nadat hy om regshulp aansoek gedoen het, sê sy kliënt sal nie om borg aansoek doen nie. Die saak is tot 13 Maart uitgestel vir verdere ondersoek.

Talle gemeenskapslede, geklee in pienk T-hemde, het te midde van ʼn streng polisieteenwoordigheid buite die hof bymekaargekom. Cindy Janse van Vuuren sê sy het sover al die hofverskynings bygewoon. “Ek het self ʼn kind, so hierdie is moeilik,” het sy gesê terwyl sy met haar tweejarige seuntjie in haar arms gestaan het. Mense buite die hof is ongelukkig oor die saak uitgestel is. “Volgens my is dit sleg dat die saak vir so lank uitgestel word maar ons sal seker maak dat ons in Maart weer hier is,” het Koos van Vuuren gesê. Rassie Goosen, ʼn inwoner van Brakpan, sê die gemeenskap is geruk deur die misdaad. “Dit is die eerste keer wat ek so grusame moord soos die sien sedert ek in Brakpan is.”

Kort na die verdagte se verskyning het ʼn polisie-Njala buite die hof teen ʼn ander voertuig gebots. Talle gemeenskapslede het om die pantsertuig saamgedrom aangesien hulle vermoed het dat die verdagte daarin vervoer word. Die Njala is glo egter net as ʼn “lokvoertuig” gebruik. Die Njala, wat vermoedelik die voertuig gevolg het waarin die verdagte was, het kort hierna teen ʼn ander voertuig gebots. Die bestuurder van die motor het sy arm lig beseer. “Dit is wat hulle kry deur te probeer om die krimineel van ons af weg te steek,” het een vrou gesê. “Ja hulle is skelm nou moet hulle betaal,” het ʼn ander een gesê.

Jasmin se liggaam is op 28 Desember onder haar bed in haar pa se woonstel in Brakpan opgespoor nadat sy vroeër as vermis aangemeld is.

Die motor wat deur die Nyala getref is. Foto: SAPA

Die motor wat deur die Njala getref is. Foto: SAPA

Lees ook:
Jasmin-moord: Polisievoertuig bots buite hof
Jasmin-moord: Groot polisieteenwoordigheid by hof
Jasmin-moord: Oom weer in hof
Jasmin vandag veras
Jasmin-moord: Saak uitgestel
Jasmin-moord: Oom in hof
Video: Jasmin se ma te bang om gedenkdiens by te woon
Jasmin: Groep stap uit oor politiek
Jasmin Pretorius: Verdagte na plek van veiligheid geskuif
Video: Gemeenskap woedend oor Jasmin Pretorius
Beskuldigde in hof oor Jasmin se moord
Man in hof vir Jasmin Pretorius se moord
Jasmin Pretorius: Inwoners betuig meegevoel
Vermiste vierjarige dood gevind

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sanet van der Bank ·

Waarom die saak net weer en weer en weer uitstel? Ek kan nie glo die polisie beskerm hom teen die gemeenskap nie. Wie het daardie arme meisie beskerm toe hy dit aan haar gedoen het???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.