Jemen-bemiddelaar ís geloofwaardig – AFP

Pierre Korkie

Pierre Korkie

Die internasionale nuusagentskap, Agence France-Presse (AFP) het Sondag volgehou ʼn bemiddelaar, wat glo kontak het met die Al-Kaïda-militante wat Pierre Korkie ontvoer het, is geloofwaardig.

Die humanitêre organisasie, Gift of the Givers, het Sondag die geloofwaardigheid van dié bemiddelaar in twyfel getrek.

“AFP volstaan by die artikel,” het Andrew Beatty, nuusredakteur van AFP vir Suidelike Afrika, aan Sapa gesê. “Die bron is ongetwyfeld geloofwaardig. Weens die sensitiwiteit van die situasie het die persoon slegs die inligting op voorwaarde van sy of haar anonimiteit oorgedra. Ons respekteer dié versoek.”

Die agentskap het Saterdag berig dat die ontvoerders nie Korkie sal teregstel nie, ondanks die feit dat hul sperdatum vir ʼn losprys van R32.5 miljoen Saterdag verstryk het. AFP het die bemiddelaar as hul bron aangehaal.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, het Sondag gesê hy weet nie wie die bemiddelaar is nie en hy het die persoon se geloofwaardigheid in twyfel getrek. “In Jemen is almal ʼn ‘onderhandelaar’ en ʼn ‘bemiddelaar’,” het Sooliman gesê.

Korkie, ʼn voormalige onderwyser van Bloemfontein, en sy vrou, Yolande, is in Mei 2013 in Taiz, Jemen, ontvoer. Yolande is in Januarie vrygelaat sonder dat ʼn losprys vir haar betaal is. -SAPA

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.