Jennifer Aniston se verloofde help glo trourok ontwerp

Jennifer Aniston en Justin Theroux

Jennifer Aniston het glo haar verloofde gevra om haar te help om haar trourok te ontwerp.

Die Hollywood-aktrise is verloof aan Justin Theroux en die paartjie gaan glo voor die einde van die jaar in Hawaii trou. Jennifer is besig om die troue te beplan, en sy het besluit om haar verloofde by alles te betrek, selfs met haar trourok.

“Jen vra Justin gereeld vir insette oor haar klerekas, of dit nou ‘n informele of formele geleentheid is. Sy waardeer sy mening en hy is gewoonlik die enigste een wat uiters eerlik is,” het ‘n bron aan die Telegraph gesê.

Die paartjie het glo met Valentino se kreatiewe direkteurs, Maria Grazia Chiuri en Pier Paolo Piccioli, vergader om trourokontwerpe te bespreek. Hulle het glo ‘n wye verskeidenheid van materiale vir Jennifer gewys en Justin het gehelp om dít te skep wat hy weet sy graag wil hê.

Jennifer het glo aan haar vriende ook gesê dat Justin haar met die rokontwerp help. Haar strooimeisies is glo jarelange vriendin en mede-aktrise Courteney Cox en Chelsea Handler. “Haar vriende het vir haar gesê sy’s ‘mal’ en gevra of sy weet dat dit ongelukkig kan wees as die bruidegom die rok voor die troue sien. Jennifer, wat nog nooit bygelowig was nie, het gesê Brad [Pitt, haar eksman], het nooit haar trourok voor hul seremonie gesien nie, en hulle het steeds geskei,” het die bron bygevoeg.

Justin is glo baie dankbaar dat hy betrokke kan wees en wil glo hê die rok moet uitdagend wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.