Jessica Leandra dos Santos en Tshidi Thamana waai die wit vlag

Mmusi Maimane, DA woordvoerder, saam met Jessica Leandra Dos Santos (Links) en Tshidi Thamana. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die twee vroue wat die afgelope week opslae gemaak het ná rassistiese uitlatings, het Donderdag bymekaar gekom om te versoen.

Jessica Leandra dos Santos en Tshidi Thamana het vir die eerste keer sedert hulle rassistiese opmerkings op Twitter uitgestuur het, ontmoet. Die ontmoeting spruit uit ʼn uitnodiging van Mmusi Maimane, die DA se nasionale woordvoerder, en het by sy huis in Roodepoort plaasgevind. Die twee het blad geskud en vir foto’s poseer.

“Ons het nie probleme met mekaar nie en ons het nie probleme met enige ras nie,” het Tshidi Thamana, ʼn 22-jarige bemarkingstudent, gesê. “Ons is net gewone mense wat baie ontsteld en weggevoer geraak het. Ons wil vandag daarvoor opmaak,” het Thamana gesê.

Dos Santos het gesê: “Ek het nie besef watter impak my tweet sou maak nie. Ons wil graag versoen en die nasie terugkry waar dit was.”

Volgens Sapa het Dos Santos die omstrede k-woordtweet aan 2 591 volgelinge gestuur. Sy het tans meer as 7 200 volgelinge.

Thamana het op dié boodskap gereageer: “Dear Mr Peter Mokaba, I wish all whites had been killed when you sang ‘Kill the Boer’, then we wouldn’t have to experience @JessicaLeandra’s racism [sic].”

Maimane het gesê die gedoente is ʼn leerskool vir albei die vroue en hy het gevoel hulle moes die platform en geleentheid gegun word om behoorlik met mekaar én die publiek te kommunikeer.

Maimane het onderneem om ʼn brief aan die Menseregtekommissie te skryf om as gunstige bewyse in die klagtes teen hulle gebruik te word. Verskeie klagtes is by die kommissie teen die vroue ingedien. Maroela Media wag nog vir terugvoer van die kommissie oor presies hoeveel klagtes tans ingedien is.

Intussen staar ʼn werknemer van die sekuriteitsmaatskappy Bidvest Magnum ʼn dissiplinêre verhoor in die gesig, na hy glo óók haatspraak op Twitter geuiter het. Itumeleng Mabeba het getweet dat Dos Santos “deserved to burn in hell you racist c***”, en hy hoop sy word met ʼn gebreekte bierbottel verkrag, berig Citizen. David Crichton, die maatskappy se besturende direkteur, het Woensdag gesê hy is baie ontsteld oor die werknemer se kommentaar en gaan dit intern ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.