Jetworx-transaksie goedgekeur

Argieffoto

Die krediteure van Jetworx, voormalige bedryfsfiliaal en instandhoudingsvleuel van 1time Holdings, het ingestem om die maatskappy aan ’n filiaal van die American Industrial Acquisition Corporation (AIAC) te verkoop, het die vakbond Solidariteit Woensdag gesê. Gevolglik sal Jetworx se nagenoeg 200 werknemers vir minstens die volgende ses maande nog ’n werk hê.

Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, sê 79% van Jetworx se krediteure het ten gunste van die transaksie gestem. “Die nuwe eienaars gaan volgende week na Suid-Afrika toe kom en die nodige ooreenkomste sal opgetrek word. Volgens die sakeplan wat Jetworx vroeër die maand bekend gemaak het, sal sy nagenoeg 200 werknemers vir minstens die volgende ses maande aanbly. Ons hoop dat Jetworx nou meer besigheid sal kry en sodoende sy werknemers ook na dié tydperk sal kan behou en dat daar nie verdere afleggings of herstrukturering by die maatskappy sal plaasvind nie.”

Jetworx het voor dit in Augustus 2012 in ’n proses van ondernemingsredding geplaas is, reeds sowat 200 van sy nagenoeg 400 werknemers afgelê. Terwyl Jetworx in ondernemingsredding was, is afleggings vir eers gestaak. Nadat 1time onder voorlopige likwidasie geplaas is, is Jetworx egter genoodsaak om verder afleggings te oorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.