Jetworx-werknemer pleeg selfmoord, maatskappy dien likwidasie-aansoek in

’n Werknemer van Jetworx, wat ’n lid van Solidariteit was, het selfmoord gepleeg nadat hy deur die maatskappy afgelê is. Solidariteit is ook besorg oor die lot van Jetworx, voormalige bedryfsfiliaal en instandhoudingsvleuel van 1time Holdings, se ander werknemers, nadat dit bekend gemaak is dat die maatskappy vandag om voorlopige likwidasie gaan aansoek doen.

1time Holdings het Jetworx asook sy ander bedryfsfiliaal, die lugdiens 1time Airline, in Augustus verlede jaar in ’n proses van ondernemingsredding geplaas. Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê ’n filiaal van die American Industrial Acquisition Corporation (AIAC) het vroeër vanjaar ingestem om al Jetworx se uitgereikte aandele te koop. Die transaksie met die AIAC is op 6 Februarie gefinaliseer. Kruger sê Jetworx het egter, voor dit in ’n proses van ondernemingsredding geplaas is, reeds sowat 200 van sy nagenoeg 400 werknemers afgelê. Kruger sê die Solidariteit-lid wat selfmoord gepleeg het, was onder die 200 werknemers wat afgelê is. “Die meeste van die werknemers wat afgelê is, het nog nie hul afleggingspakkette ontvang nie en hulle verkeer gevolglik onder geweldige finansiële druk. Solidariteit dring altyd daarop aan dat werkgewers aan die vaste uitbetalingstydperk van afleggingspakkette voldoen, ondersteuning ten opsigte van die uitbetaling van werkloosheidsversekering bied, en beradingsdienste aan werknemers beskikbaar stel.”

Kruger sê Solidariteit is baie bekommerd oor Jetworx se oorblywende werknemers. “Die aandeelhouer (AIAC) het ongelukkig versuim om finansiering aan Jetworx te voorsien soos wat dit verplig is om te doen en die maatskappy se finansiële posisie het verder agteruitgegaan. Jetworx het vir sowat R3 miljoen van die AIAC gevra om sy werknemers te betaal en die maatskappy operasioneel te hou. Die AIAC het egter nie die geld aan Jetworx voorsien nie en die maatskappy kan as gevolg hiervan nie sy verskaffers of werknemers betaal nie. Gevolglik is opdrag gegee om ʼn aansoek te bring om die maatskappy voorlopig te likwideer. Jetworx se werknemers kry reeds die afgelope sewe maande byna geen salarisse nie en hulle gaan nou verder onder druk geplaas word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.