Jeug peil menings oor transformasie in omstrede video

Charl Oberholzer

Charl Oberholzer

Die video volg onderaan die berig.

AfriForum Jeug Maties het Dinsdag ‘n omstrede video, genaamd TransforMATIES, uitgereik waarin studente se menings oor transformasie by die Universiteit van Stellenbosch (US), gevra is. Dié video merk ook die loodsing van AfriForum Jeug se aanlynpetisie teen rasseklassifikasie op www.afriforumjeug.co.za.

“Studente kom daagliks die woord ‘transformasie’ teë en maak uitsprake daaroor sonder om werklik te dink wat die woord beteken, daarom het ons besluit om dié video te maak”, het Conrad Basson, voorsitter van AfriForum Jeug Maties, gesê.

Die video is saamgestel deur aan lukraak gekose studente vrae te vra en daarmee te wys hoe kontrasterend die idee van transformasie by universiteite verkondig word. “Studente word nooit gekonfronteer met die ANC se weergawe van transformasie nie,” sê Basson.

Volgens Basson is studente geneig om transformasie vanselfsprekend as iets positief te aanvaar, maar wanneer hulle meer daaroor dink en besef hoe transformasieprosesse sommige studente diskriminerend benadeel, verander die standpunte vinnig.

AfriForum Jeug het aan die studente verduidelik dat die ANC se idee van gelykheid ‘n voorbeeld van formele gelykheid is. “In die onderhoude het ons eerstens vir studente gevra of hulle met transformasie saamstem, en daarna probeer uitvind of hulle met alle aspekte van transformasie saamstem. Teen die einde van die onderhoud is die studente weer die geleentheid gegee om te sê of hulle steeds daarmee saamstem. Almal wat aanvanklik met transformasie saamgestem het, het aan die einde gesê hulle is daarteen gekant,” het Basson gesê.

AfriForum Jeug het verlede week byna 4 ure in ’n geslote vergadering met die hoofdirekteur van beleidsformulering by die departement van hoër onderwys, Mahlubi Mabizela, gehad waarin daar onder meer erken is dat die toekomsriglyn vir die totale getal studente in universiteite 90.6% swart en 9.4% wit is. “Studente word geklassifiseer en hulle geleenthede word na aanleiding van dit bepaal, studente word daarom aangemoedig om die petisie te steun en so te verseker dat die ras-blokkie op toelatingsvorms opsioneel is,” sê Basson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.