Jeugdag: AfriForum bekommerd oor Afrikaans in skole

Een van die lesse van 16 Junie 1976 was dat die jeug se behoeftes oor die taal waarin hulle onderrig word, in ag geneem moet word. Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het gesê hulle vind dit ironies dat die Suid-Afrikaanse regering op Jeugdag 2012 nie die boodskap snap nie en nou leerders wat wel in Afrikaans wil skoolgaan, probeer dwing om te verengels.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is daar die afgelope tyd toenemende pogings van die departement van onderwys om Afrikaanse skole te dwing om leerders in Engels te akkommodeer. AfriForum het gesê hulle vind dit onaanvaarbaar. “Nie alleen is die oorskakeling van enkelmedium- Afrikaanse skole na parallel- of dubbelmedium onderrig altyd die eerste stap na verengelsing nie, maar dit veroorsaak ook geweldige druk op skole se hulpbronne wat selde ten volle deur die onderwysdepartement verlig word,” het Bailey gesê.

Volgens die organisasie is dit noodsaaklik dat ouers, wat inspraak wil lewer oor die skool waarheen hul kinders volgende jaar gaan, hul kinders reeds voor 27 Julie 2012 by die skool van hulle keuse moet inskryf.

“Vanjaar is die inskrywingsdatum maande vroeër as gewoonlik en as ouers nie nou werk maak van die inskrywings nie, kan skole wat teen 27 Julie nog nie vol is nie, deur die onderwysdepartement gedwing word om leerders te aanvaar wat nie voldoen aan die skool se taal- of toelatingsvereistes nie. Die Gautengse onderwysdepartement behou die reg voor om alle inskrywings wat ná 27 Julie ontvang word, self te plaas in enige skool wat plek het,” het Bailey gesê.

“Kinders word ook nie outomaties deur hulle laerskole by hoërskole ingeskryf nie. Ouers moet betrokke wees by hulle kinders se skole en so help bydra daartoe dat Afrikaans as onderrigtaal ʼn toekoms sal hê,” het Bailey bygevoeg. Sy het ook ʼn beroep op ouers gedoen om AfriForum se Red Afrikaanse skole-veldtog te ondersteun. Volledige besonderhede is beskikbaar by www.afriforum.co.za/red-afrikaanse-skole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.