Die ANC-jeugliga se geskorste woordvoerder, Floyd Shivambu, sal Woensdag in die gelykheidshof in Johannesburg verskyn op aanklagte van haatspraak.
Shivambu word daarvan beskuldig dat hy die voormalige verslaggewer van Independent Newspapers, Carien du Plessis “dom” en ʼn “wit teef” genoem het. Du Plessis beweer dat Shivambu ʼn SMS-boodskap aan haar gestuur het waarin hy gesê het: “Jy moet leer om mense te respekteer. Ek lewer nie kommentaar oor JKL (Jong Kommuniste-liga) aangeleenthede nie en asseblief hou op dom wees.” Hy het glo verder gesê: “Ek wil nie respek verdien van wit tewe nie…so droom voort.” Shivambu en sy regsverteenwoordiger het verlede maand versuim om in die hof te verskyn. Die hof het gelas dat Shivambu die koste van Du Plessis se regspan vir die dag en vir die voorbereiding betaal. Die saak is in Maart vanjaar ook uitgestel. Du Plessis dagvaar Shivambu vir R100 000.