JHB-aardskudding: Nog geen skade aangemeld

Johannesburg. Argieffoto: Legendtours

Johannesburg. Argieffoto: Legendtours

Geen skade of beserings is tot dusver aangemeld nie nadat ʼn aardskudding, wat vier op die grootheidskaal geregistreer het, Johannesburg omstreeks 10:00 getref het.

“ʼn Uur ná die voorval plaasgevind het, is daar nog geen klagtes van skade of beserings weens die aardskudding aangemeld nie,” het Robert Mulaudzi, ʼn woordvoerder van die stad se nooddienste gesê.

Mulaudzi sê egter die nooddienste se inbelsentrum het verskeie oproepe van verskrikte inwoners ontvang.

Maroela Media het vroeër berig Michelle Grobbelaar, ʼn bestuurder van die seismologie-eenheid, het dit as “nogal ʼn grote” beskryf.

Voorlopige inligting dui daarop dat die aarskudding se episentrum omstreeks 10:00 by die Universiteit van Johannesburg was. Na wat verneem word, het mense die aardskudding in Alberton, Randburg, Roodepoort, Brackendowns, Aucklandpark, Hydepark, Melville, Soweto en die Johannesburgse middestad gevoel. Lees meer hier.

Intussen het Maroela-lesers ons van hul ervaring vertel.

Gretha Horn het gesê sy woon in Robindale in Randburg en het die skudding ook gevoel. “Dit was soos ‘n golf wat deur die huis gerol het, maar niks waaroor ek bekommerd was nie.”

Laura Erasmus het gesê: “Ek werk op die 40ste vloer in die Carlton-sentrum in die middestad, en dit was werklik nogal skrikwekkend. Toe almal nader kom en vra wat gebeur het, het ek geskerts en gesê hul kan maar weer werk, dis net ek wat bietjie hard gaan sit het. Maar sonder grappe, as jy so hoog werk flits 9-11 gedagtes deur jou kop as die gebou rondskud.”

Het jy die skudding gevoel? Deel jou ervaring en laat weet ons waar en hoe laat dit gebeur het deur ʼn e-pos te stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.