Een persoon is dood en 17 ander beseer na ʼn voertuig en ʼn taxi Maandagoggend in die noordelike gedeelte van die M1-snelfweg naby Woodmead, Johannesburg, gebots het.
Volgens Derrick Banks, ʼn woordvoerder van ER24, is dit nog nie bekend wat die botsing veroorsaak het nie.
“Met paramedici se aankoms was die taxi aan die kant van die snelweg aan die onderkant van ʼn wal. Die taxi het gerol en die passasiers uit die taxi geslinger. Die voertuig was nog op die snelweg. Een passasier is op die toneel dood verklaar. Nog ʼn passasier was in ʼn kritieke toestand en is op die toneel gestabiliseer en per helikopter na die hospitaal geneem,” het Banks gesê.
Sestien ander pasiënte, waaronder die twee insittendes van die voertuig, is op die toneel vir verskeie beserings behandel en na nabygeleë hospitale geneem vir verdere behandeling.