JHB-motoriste vermy tolpaaie

Argieffoto

Argieffoto

Spitsverkeer Woensdagoggend was swaar op Johannesburgse paaie weens motoriste wat aanhou om e-tolsnelweë te vermy, het die Johannesburgse metropolisie gesê.

“Motoriste maak sedert Dinsdag, toe die e-tolstelsel amptelik in werking gestel is, van alternatiewe roetes gebruik om die N1, N3 en N12 te vermy,” het Edna Mamonyane, ʼn woordvoerder van die metropolisie, gesê.

Sy het gesê verkeer op die M1-noord na Johannesburg se middestad was baie swaar. Verkeersvloei is verder beïnvloed weens verkeersligte wat nie by besige kruisings gewerk het nie.

Mamonyane het gesê sy weet nie hoe lank motoriste e-tolroetes gaan vermy nie. “Ons kan nie sê of motoriste uiteindelik e-tolskyfies gaan aanskaf of nie.”

Dr. Neil Campbell, Gautengse DA-woordvoerder oor paaie en vervoer, het gesê alternatiewe roetes is nie lewensvatbaar nie.

“Een van die paaie op die lys van alternatiewe roetes is Witkoppenweg, wal alreeds hoë volumes verkeer dra en ʼn brug wat besig is om mee te gee,” het Campbell gesê. Prominente ingenieurs het reeds hul kommer uitgespreek oor motoriste se veiligheid op dié gedeelte van die pad, maar nog niks is gedoen om die brug te herstel nie. “Ek hoop geen lewe word verloor voordat die brug herstel is nie. Die blaam van lewensverlies sal beslis op Ismail Vadi, LUR vir paaie en vervoer in Gauteng, berus.”

Octavia Mamabolo, Vadi se woordvoerder, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Intussen het talle motoriste, wat reeds e-tolskyfies aangeskaf het, gesê die hoofrede hoekom hulle dit gedoen het, is om by die spesiale aanbiedings te baat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JB ·

Soos gewoonlik is daar geen alternatief nie en dit is en bly pateties!!!! SA se pad en vervoerstelsel is n grap!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.