JHB-paaie sluit vir Avengers-verfilming

avengersʼn Lokprent van die fliek volg onderaan die berig.

Verskeie paaie in Johannesburgse middestad gaan Dinsdag gesluit word terwyl die Hollywood-lokettreffer The Avengers se opvolgfliek daar verfilm gaan word.

“Die maatskappy wat die fliek verfilm, het aansoek gedoen om vandag [Maandag] in die middestad te verfilm, maar dit is uitgestel na Dinsdag,” het hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, gesê.

“Albertina Sisulustraat (voorheen Markstraat) gaan nie meer Maandag van 07:00 tot 19:00 tussen Harrison en Rissikstrate gesluit wees soos voorheen aangedui is nie.”

Volgens Minnaar begin die verfilming in die gebied Dinsdag om 18:00 en sal verfilming regdeur die aand plaasvind.

Nog strate wat tussen 14 en 23 Februarie gesluit gaan word sluit Presidentstraat tussen Rissik- en Eloffstraat, en Joubertstraat tussen Harrison- en Rissikstraat in.

Gedeeltes van Commissioner-, Sauer- en Albertina Sisulustraat gaan ook gesluit word.

Motoriste word aangeraai om Jeppe-, Bree-, Pritchard-, Marshall- en Andersonstraat as alternatiewe roetes te gebruik.

Kinsley Sitholeweg en Basil Zumastraat in Orlando-Oos gaan Donderdag vir verkeer gesluit wees.

“Ons versoek die publiek om geduldig te wees en van alternatiewe roetes gebruik te maak terwyl die fliek hier verfilm word,” het Minnaar gesê.

Die fliek se opvolg, Avengers 2: Age of Ultron, het ʼn sterbelaaide rolverdeling. Bekende akteurs soos Robert Downey Jr, Scarlett Johansson, Chris Evans,en Chris Hemsworth vertolk verskeie gewilde superhelde.

http://youtu.be/WM8l5DIEYn4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.