ʼn Man is Donderdag dood en ʼn ander beseer tydens ʼn rooftog in Crown Mines, Johannesburg.
“Drie mans het op die M2 op twee ander mans in ʼn Toyota-paneelwa geskiet,” het hoofsupt Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, gesê. “Een van die mans is op die toneel dood en ʼn ander is na ʼn hospitaal geneem.”
Die drie mans het glo die twee persone, wat in die paneelwa gery het, van ʼn onbekende bedrag kontant beroof en met ʼn grys Audi weggejaag.
Volgens Minnaar het die verkeer net voor 15:00 van Main Reefweg in Crown Mines begin opdam. Motoriste word aangeraai om die M2-afrit in die omgewing te vermy. -SAPA