Jimmy Manyi kry die trekpas

Kimmy Manyi. Foto: INLSA

Die vakbond Solidariteit het die besluit om nie die regeringswoordvoerder, Jimmy Manyi, se kontrak te hernu nie, verwelkom. Volgens Solidariteit moet die regering egter nie net van Manyi ontslae raak nie, maar ook van sy idees oor ras en regstellende aksie.

Manyi is bekend vir sy omstrede rasidees en veral vir sy uitsprake dat bruin mense oorverteenwoordig in die Wes-Kaap is en oor die hele land heen moet versprei. Die hoof van die beplanningskommissie, minister Trevor Manuel het in ʼn ope brief aan Manyi geskryf dat sy rassisme die hoogste raadsale (“echelons”) van die regering geïnfiltreer het.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit sê Manyi se idees het nie net die regering geïnfiltreer nie, maar het regeringsbeleid geword. “Die departement van korrektiewe dienste en die Suid-Afrikaanse Polisiediens se regstellendeaksiebeleid is ʼn toonbeeld van Manyi se idees en verskeie howe het hulle al daarteen uitgespreek. Die nuwe konsepwysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming wil Manyi se  idees versterk deur die minister van arbeid die mag te gee om regulasies af te dwing waarvolgens maatskappye die nasionale demografie op provinsiale vlak kan toepas. Ons beroep op die regering is dus om nie net ontslae te raak van Manyi nie, maar ook sy rassistiese idees,” het Hermann gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.