Joemat-Peterson skuldig aan roekelose wanbesteding

Tina Joemat-Peterson

Tina Joemat-Peterson, minister van landbou, bosbou en visserye, is Maandag op twee aanklagte van roekelose openbare besteding skuldig bevind, het Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, gesê.

Dié bevindinge hou verband met bewerings dat die minister honderde duisende rande aan luukse akkommodasie en oorsese reise spandeer het. Die Openbare Beskermer het verskeie bewerings dat Joemat-Peterson staatsgeld vir dié reise aangewend het, ondersoek, berig EWN.

Madonsela het gesê Joemat-Peterson is verantwoordelik vir roekelose en onverantwoordelike uitgawes in ten minste twee gevalle. Sy sê sy het bewyse dat die minister, tydens die 2010 Sokkerwêreldbeker, in ‘n luukse gastehuis tuisgegaan het. Haar akkommodasie het die belastingbetaler sowat R420 000 gekos.

Volgens Madonsela is dit boonop roekeloos om meer as R151 000 van staatsgeld op retoerkaartjies na Swede vir haar kinders en ‘n au pair te spandeer. Joemat-Peterson het glo die reis onderneem om ‘n regeringskonferensie by te woon en vir ‘n persoonlike vakansie. “Die minister het dit probeer regverdig dat haar hoof aangedui het dat sy vir haar kinders en au pair ook mag betaal. Die feit dat die departement egter nie veronderstel was om die kostes aan te gaan nie, bly ‘n realiteit,” het Madonsela gesê.

Madonsela doen ‘n beroep op die departement om maniere te vind om die kostes te verhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.