ʼn Bekende joernalis en ʼn lid van die BBP-beskermingseenheid is Maandagaand dood in ʼn botsing reg van voor in KwaZulu-Natal.
News24 berig dat Tim Ncube, ʼn ervare joernalis, dood is nadat die bestuurder van ʼn bloulig-motor reg van voor teen sy motor gebots het op die N2. Die bloulig-motor was glo deel van ʼn stoet motors wat Koning Goodwill Zwelinthini van sy paleis in Nongoma na ʼn hospitaal in Richardsbaai geneem het. Die bestuurder van die bloulig-motor het glo probeer om ʼn ander voertuig verby te steek. Die ongeluk het glo in ʼn 60-80km/h-sone plaasgevind naby Kwamsame. Volgens ʼn polisiewoordvoerder, Jabulani Mdletshe, was die bloulig-motor ten tyde van die ongeluk ver weg van Zwelinthini se motor. Mdletshe sê die bloulig-motor het vermoedelik agter geraak en weer by die ander motors probeer uitkom. Ncube en die bestuurder van die bloulig-motor is op die toneel dood verklaar. Dit is nie duidelik waarom Zwelinthini na ʼn hospitaal vervoer is nie.
Lees meer hier.