Joernalis bedank oor Ramaphosa-berig

Cyril Ramaphosa

Gaye Davis, ‘n politieke redakteur van Independent Newspapers, het bedank ná ‘n berig in The Star wat aandui dat Cyril Ramaphosa die nominasie vir adjunkpresident van die ANC van die hand gewys het.

“Ek het glad nie ‘n bydrae tot die berig gehad nie,” het Davis Dinsdag gesê. “Ek het wel vroeg Sondagaand bevestiging van mnr. Ramaphosa ontvang dat, in teenstelling met die berig, hy die nominasievorm ontvang en onderteken het,” het sy in ‘n verklaring aan Sapa gesê.

Davis bedank glo om haarself in die publiek te “distansieer” van die berig in The Star. “Eties glo ek ek kan nie myself publiek distansieer indien ek nog steeds in Independent Newspapers se diens bly nie.” Davis glo haar bedanking was nodig om haar kredietwaardigheid as joernalis te behou.

Sy het aan die skrywer van die berig gesê dat Ramaphosa bevestig het hy is steeds in die verkiesing, en is aangesê dat die koerant by hul standpunt hou, maar dat ander redakteurs in die groep hul eie oordeel kan fel. “Ek het ander oggendredakteurs in die groep gekontak wat toepaslike aksie geneem het en nie die storie in sy oorspronklike formaat publiseer het nie,” het Davis bygevoeg.

Chris Whitfield, hoofredakteur van Independent Newspapers: Cape, het gesê die maatskappy is bewus van die bedanking en probeer verstaan wat gebeur het. “Dit lyk of daar ‘n misverstand was en dat die redakteur van The Star nie ten volle oor Gaye se besorgdheid oor die storie ingelig is nie. Ons probeer in dié stadium uitvind hoe presies dit gebeur het,” het Whitfield gesê.

Whitfield sê die maatskappy wou nie gehad het dat Davis bedank nie en hulle hoop om haar te oorreed om van plan te verander.

Davis is sedert Oktober 2008 adjunk-politieke redakteur vir die groep. Sy sê sy het Ramaphosa persoonlik gekontak en hom oor haar bedanking ingelig.

Ramaphosa is Dinsdag tot adjunkpresident van die ANC aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.