Johan Kotze: Die vrae wat oorbly

Johan Kotze, die "Modimolle-monster". Foto verskaf deur die SAPD

Elke dan en wan is daar ʼn bisarre storie wat die nasionale aandag aangryp. Dis boonop interessant om die verloop te volg van die soektog en vang van vlugtende rowers en moordenaars wat wreedaardige en oordadige misdade gepleeg het. Na my mening is die spoed en doeltreffendheid van die polisie – in Suid-Afrika altans – se optrede byna altyd gekoppel aan die media-aandag oor die saak. Die saak van die sogenaamde Modimolle (Nylstroom)-monster, Johan Kotzé, stel daarom nie teleur nie. Dit los ook egter ʼn klomp vrae oor wat volgende gaan gebeur, die vlak van polisiediens in ons land en mense wat glo gedwing word om misdade te pleeg.

Ek vra by voorbaat om verskoning vir die skets van ʼn deeglike konteks, maar vir perspektief is dit tog nodig. Die polisie het reeds op 4 Januarie, nadat Kotzé glo sy stiefseun vermoor het, ʼn foto van hom uitgestuur om hul soektog te vergemaklik. Luidens berigte is hy Woensdagaand om 11:45 by ʼn vriend, mnr. Dirk van der Merwe, se huis in ʼn rustige straat in Modimolle vasgetrek nadat hy doodluiters soontoe gestap het. Hy het glo voor dit in sy Toyota Fortuner sowat 2km buite die dorp gebly en Van der Merwe het die polisie ingelig toe Kotze by hom opgedaag het. Kotzé het boonop meer as een keer kos by ʼn supermark in die dorp gaan koop.

ʼn Inwoner van Modimolle, Surinda du Preez, het boonop sy kar Woensdagaand om 20:00 gewaar toe sy bloot in ʼn straat in die dorp afgery het om haar kinders aan die slaap te sus. Sy het haar skoonma laat weet waarna laasgenoemde haar seuns in kennis gestel het en hulle het hom toe agtervolg asook die polisie laat weet het. Hulle het sy voertuig in ʼn dig bebosde hoewe-gebied buite die dorp gekry waar hy teen ʼn doringboom gebots het (en vermoedelik toe na Van der Merwe se huis is).

Uit hierdie gegewens kan daar afgelei word dat behalwe vir ʼn foto wat uitgereik is, het die polisie nie die saak doeltreffend opgelos nie. Die feit dat Kotzé vir ʼn week lank in sy kar buite die dorp gewoon het sonder dat die polisie hom vang, laat talle vrae ontstaan. Het die polisie nie gedink om die dorp waar als gebeur het, eerste te fynkam nie? Hoe kon hy doodluiters meer as een keer by ʼn supermark kos gaan koop sonder dat die polisie of iemand hom gesien het? Was daar dan nie ʼn voldoende polisie-teenwoordigheid wat hom afgeskrik nie? Hoekom het die werkers by die supermark nie die polisie in kennis gestel nie?

Op die ou einde is Kotzé deur Du Preez (wat hom toevallig gesien het) en Van der Merwe se inligting vasgetrek. “Vastrek” is dalk bietjie sterk, want die inligting is aan die polisie gegee en hulle het hom toe bloot gearresteer – ná ʼn hele week. Die polisie het hom dus nie gesien terwyl hy rondgery het nie, nie moontlike leidrade op die dorp opgevolg nie en eintlik net die inhegtenisneming uitgevoer nadat burgerlikes al die inligting deurgegee het. Die strategie kon ook behels om ʼn lae profiel te handhaaf om sodoende die illusie te skep dat daar nie na hom gesoek word nie. Sodoende voel hy hy is vry om rond te beweeg en dat die situasie nie so ernstig is nie. Dit is egter bietjie dik vir ʼn daalder want Kotzé se uiteindelike arrestasie vertel ʼn ander storie. Dit wil voorkom of die polisie salig onbewus was van sy doen en late en hom per toeval gevang het. Geen wonder soveel van ons misdaad bly onopgelos nie…

Die volgende stel vrae hou verband met die aanklagte teen hom. Kotzé gaan heel waarskynlik van moord aangekla word van die moord op sy 19-jarige stiefseun. Daarbenewens het hy na bewering ʼn grusame aanval op sy vervreemde vrou gereël waarby drie van sy werkers betrokke was. Sy is verkrag en vermink. Een van die verdagtes is vasgetrek en twee is nog op vrye voet. Regslui meen die werkers sal aangekla word van die misdade teen hulle, maar dan beweer hulle is deur Kotzé gedwing. Dit is moeilik om te bewys en elke saak sal op sy eie meriete ondersoek word. Die vrou as slagoffer se getuienis en die konsekwentheid van elke verdagte se storie sal weldra die ware prentjie skets. In ieder geval sal Kotzé minstens van verkragting, afpersing, aanranding met die doel om ernstig te beseer en intimidasie aangekla word – of ʼn medepligtige wees op sommige van hierdie aanklagte teen hom.

Ten slotte kan daar bloot gesê dat Kotzé stellig nie weer ʼn vry man gaan wees nie. Die aanklagte teen hom is geweldig ernstig en taamlik maklik bewysbaar en die feit dat hy gevlug het, gaan verswarend daarop inwerk. Hoewel die media ʼn waardevolle rol in sulke sake speel, is dit my wens dat elke slagoffer in Suid-Afrika se saak so gou soos hierdie een opgelos word. Die polisie moet hul werk doeltreffend doen, ongeag van die aandag en druk van die publiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.